

Die lewe van ’n jong belowende onderwyser en pa van ’n dogtertjie van drie, is Vrydagaand binne minute as gevolg van ’n botsing beëindig. John-Peter Daniel Sauls het pas vertrek nadat hulle hele personeel van PJ Badenhorst Primêr, ’n kollega wat afgetree het, by sy huis gaan groet het toe die botsing plaasvind.
Hy was alleen in sy VW Golf toe hy uit Voortrekkerweg in Randstraat ingedraai het. Sy motor is deur ’n aankomende Audi 3 met twee insittendes getref. Die slag van die botsing is blokke ver gehoor en die Golf het aan die brand geslaan.
’n Man wat met sy vrou en kleinkind op die volgende hoek was, het die slag gehoor. Hy het opgehardloop en het met die hulp van nog iemand daarin geslaag om die beseerde Peter-John uit die kar te bevry en hom oor die pad gedra voordat die Golf in vlamme gehul was.
Die bestuurder van die Audi was skynbaar ongedeerd en die passasier was in die motor vasgedruk. ’n Omstander met noodhulp-opleiding het die beseerde Peter-John bygestaan, maar kort na die aankoms van paramedici op die toneel is hy dood verklaar. Die passasier in die Audi is deur paramedici uitgehaal en hospitaal toe geneem.
Sersant Chris Spies, kommunikasiebeampte van die SAPD in die Suid-Kaap het bevestig dat die bestuurder van die Audi in hegtenis geneem is op ’n klag van bestuur onder die invloed van drank. Die polisie ondersoek ook ’n klag van strafbare manslag. Die vrou verskyn op 22 Januarie in die hof.
Die Hoorn het bevestig dat ’n kollega van Peter John in ’n motor voor hom was en reeds deur die kruising was voordat hy weggetrek het. Nog ’n kollega was in ’n voertuig agter hom. ’n Ooggetuie op die toneel het gesê die Golf het gewag vir ’n motor wat van voor gekom het en toe weggetrek toe die motor verby is. Volgens die persoon het die Audi skielik en teen ’n hoë spoed aangekom toe die Golf reeds besig was om die pad oor te steek.
Die skoolhoof van PJ Badenhorst Primêr, Enrique Pietersen, het Maandag gesê die personeel is nog in skok na die botsing.
“Ek kan nie verduidelik wat ’n geweldige verlies PJ se dood is nie. Hy was twee jaar en tien maande by ons skool en ek het lanklaas ’n jong onderwyser met soveel toewyding en liefde vir kinders gesien. Hy het vir niks nee gesê nie en was in die klas, op die sportveld en by enige funksie ’n toonbeeld van ’n ware onderwyser. Ek ken hom al sedert ek vir hom by Coleridge Primêr skoolgegee het. Ons kan dit steeds nie glo nie.”
Peter-John het onlangs verloof geraak aan Kayla Danster en hulle het ’n dogtertjie van drie. Kayla is ’n finale-jaar onderwysstudent en sê die afgelope agt jaar dat sy en Peter John sedert skooldae al in ’n verhouding was, is vir haar ’n groot seën. “Hy het my lewe vol gemaak, hy het my ondersteun deur al my studies en hy was ongelooflik lief vir my. Ek wil daarop fokus, nie op die feit dat hy vir altyd weg is nie.”
Die Hoorn het Peter-John se verloofde en familie Maandag besoek. Sy broer, Shedwick, vertel dat hy op pad was om by Peter-John aan te sluit waar hy by iemand sou kuier toe hy die oproep kry dat sy broer in ’n botsing was.
“Ek het dit nie geglo nie, maar toe ek by die toneel kom het my kollegas van provinsiale verkeer reeds die pad afgeblok en PJ het op die kant van die pad gelê.”
Hulle oudste broer, Roberto Botha, het gesê dat die begrafins Saterdag plaasvind. Finale reëlings moes nog getref word. ’n Kranslegging is gisteraand (Donderdagaand) op die toneel van die botsing gehou. (HANNES VISSER)