


Die ouers van ’n veertienjarige seun moes Sondagmiddag by ’n plaasdam op Stolsvlakte toekyk terwyl polisieduikers hulle seun se liggaam uit die water haal.
Nehemia Jacobs het Saterdag omstreeks 12:00 saam met vier ander seuns by die dam wat etlike kilometers van die woongebied is, gaan swem.
Dit blyk dat Nehemia in die water ingegaan het en skielik onder die water verdwyn het. Die seuns het na huise naby die dam gehardloop om hulp te soek. Die polisie het kort daarna ’n oproep ontvang dat ’n seun vermoedelik verdrink het.
Met die aankoms van die nooddienste en polisie op die toneel was daar nie ’n teken van die vermiste seun nie en polisieduikers is van Knysna ontbied.
Met die aankoms van die duikers het die kinders wat saam met Nehemia was, die plek aangedui waar hy verdwyn het. Sy liggaam is omstreeks 15:30 deur ’n duiker gevind en uit die water gebring. Die plek waar hy gevind was, is skaars 10 meter van die oewer van die dam af. Dit blyk dat die dam op daardie plek skielik dieper word.
Nehemia se pa, Venando Samson, het op die toneel gesê iemand het hom laat weet dat sy seun verdrink het en hy het hom na die dam gehaas. Hy en Nehemia se ma is geskei en die seun het by sy ma gewoon.
Nehemia se ma, Elzane, het Maandagmiddag met Die Hoorn gesels. Sy sê Nehemia het Saterdag saam met ander seuns gaan stap, maar hulle het nie gesê dat hulle dam toe gaan nie.
Sy het ’n ruk later die boodskap ontvang dat Nehemia verdrink het. Toe sy en Gurswin by die dam kom was daar reeds ’n groot groep mense wat gewag het vir die duikers wat vanaf Knysna onderweg was.
Nadat Nehemia se liggaam uit die water gehaal is, het lede van die SAPD en ’n groot aantal gemeenskapslede agtergebly en gewag dat die gesondheidsdepartement se forensiese patologie-eenheid die liggaam haal.
Die begrafnis van Nehemia vind op Saterdag 23 November plaas. Hy was ’n graad 8 leerder by Hoërskool Môrester. (HANNES VISSER)