
Die veteraan-akteurspaar, Johan en Lida Botha en die navorser en skrywer, Eunice Visser, is verlede week deur die raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer.
Die Bothas het die erepenning vir uitvoerende kunste ontvang. Hulle het die nuus Vrydagoggend by hulle woning buite Calitzdorp ontvang. Die erepenning word toegeken vir persone se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die kunste en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband.
In ʼn mediaverklaring van 25 April sê die Akademie: “Die akteurspaar, Lida Botha en Johan Botha, het in hulle loopbane, sedert die laat 1970’s ’n besondere en noemenswaardige bydrae tot Afrikaanse teater, televisie, film en radio gelewer.
Inderwaarheid het hulle hul hele lewens aan hulle kuns gewy en oor dekades huishoudelike name vir die Suid-Afrikaanse publiek geword. Dat hulle uitsonderlike talente, op hulle gevorderde ouderdom, steeds gesog is onder veral ’n nuwe geslag opkomende teaterkunstenaars, film- en televisievervaardigers en regisseurs, spreek van bewese talent wat verering verdien.”
Johan en Lida is onderskeidelik 85 en 90 jaar oud. Met Die Hoorn se besoek aan hulle toe hulle die nuus ontvang het, het Johan gesê sy laaste optrede voor die kameras was sowat twee jaar gelede met die verfilming van ʼn misdaareeks en dat hy daarna besluit het om uit te tree. Lida daarenteen is steeds volstoom aan die werk. Die egpaar het juis gisteraand die premièr van die film Die Kwiksilwers, in Hermanus bygewoon waarin Lida ʼn rol vertolk het.
Hulle is ook op Donderdag 8 Mei in die Neelsie-teater by Arbeidsgenot waar hulle deelneem aan die program om Afrikaans se 100 jaar as amptelike landstaal te vier.
Eunice Visser, kultuurhistorikus van Klaarstroom, het die Protea Boekhuistoekenning ontvang vir haar lywige en uiters insiggewende kultuur-historiese boek, Die Kaapse slawe, 1652–1838: ’n Kultuurhistoriese perspektief.
Die prys roteer tussen ʼn gepubliseerde werk, die beste magisterverhandeling, en die beste doktorale proefskrif in geskiedenis of kultuurgeskiedenis in Afrikaans. Die beste gepubliseerde werk wat die afgelope drie jaar (2022, 2023, 2024) verskyn het, word vanjaar bekroon.
Hierdie werk het volgens die Akademie “… bo die ander voorleggings uitgestaan wat oorspronklikheid, akademiese onderbou (argivale navorsing) en leesbaarheid betref.” Dit word beskryf as ʼn lywige boek met pragtige illustrasies wat sorg vir groot leesplesier.
Die boek het in 2022 by Protea verskyn en volgens Eunice het sy ongeveer vier jaar aan navorsing en die skryf van die boek spandeer. Die boek is die verhandelingsresultaat van haar doktoralegraad in kultuurgeskiedenis. Sy het haar meestersgraad met lof aan die Universiteit van Pretoria behaal. Sy sê dat sy op dié tema besluit het aangesien sy met haar leeswerk van reisbeskrywings van vroeë besoekers aan die Kaap, besef het watter groot rol die slawe in die Kaap se samelewing vertolk het.
“Die slawe het onteenseglik ’n belangrike rol in die ontwikkeling van ʼn eiesoortige inheemse, Kreoolse kultuur aan die suidpunt van Afrika gespeel en in die boek verken ek hierdie aspek,” het sy hierdie week gesê.
Op ʼn vraag of daar enige ander publikasies voorlê het sy gesê sy is “besig om die onderwerp van die Bo-sluis basters van die Noordkaap in my kop rond te rol”. (HANNES VISSER)