Nasorgsentrum hou Paas-staptog

Bo: Die groep van Grootstap Nasorgsentrum tydens hulle staptog deur De Rust op 18 April. Foto verskaf Onder: Poppie Smidt (links) en Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Johan Allers by Nahkesha en haar ma, Nadine Stuurman tydens die oorhandiging van die spesiale stoel. Foto: Hannes Visser

Die Grootstap Nasorgsentrum in die informele nedersetting, Riemvasmaak by De Rust, onderneem elke jaar tydens die Paasfees ’n staptog deur Blomnek en De Rust om die kruisiging van Jesus te herdenk.

Die nasorgsentrum bied nasorg aan 25 kinders en 16 van hulle het op 18 April vanjaar se staptog onderneem.

Die groep het in die parkeerruimte voor die De Rust Hotel geestelike danse uitgevoer waarna die dag met ’n diens en ete afgesluit is.

Christina (Poppie) Smidt, die stigter van Grootstap Nasorgsentrum het verlede week gesê dit is vir haar ’n voorreg om op hierdie manier betrokke te wees by die geestelike groei van kinders uit Riemvasmaak waar gesinne deur groot uitdagings in die gesig gestaar word.

Smidt het ook ’n sleutelrol gespeel dat die driejarige Nahkesha Stuurman wat serebraal gestremd is, verlede week ’n spesiale stoel van Pedaitric Care Africa ontvang het. (HANNES VISSER)