Dis politiek, sê Oudtshoorn-raadslid oor seksuele aanranding-klag

Vroue betoog Dinsdag by die Oudtshoorn Landdroshof teen borgtog vir ’n prominente raadslid. Foto: Garnett Wicomb

DIE borgaansoek van ’n prominente raadslid van Oudtshoorn wat van seksuele aanranding aangekla word, is Dinsdag (18 Oktober) in die distrikshof op die dorp vir voortsetting tot Dinsdag 25 Oktober uitgestel nadat ’n regsverteenwoordiger vir die beskuldigde op rekord gekom het.

Die 40-jarige raadslid word daarvan aangekla dat hy op 27 September ’n 37-jarige vroulike werk­nemer van die munisipaliteit seksueel aange­rand het.

Hy het Dinsdag op die eerste dag van sy borgaansoek sy eie verdediging waargeneem.

Hy het die hof vir borgtog gevra omdat hy as se­nior raadslid pligte het om na te kom en dit in belang van geregtigheid is dat borgtog aan hom toe­gestaan word.

Volgens hom is van sy belangrikste pligte om vir die burgemeester in te staan wanneer die burgemeester nie beskikbaar is nie.

Hy het tydens kruisondervraging deur die staats­aanklaer, Jacolize Jordaan, behoorlik klei getrap om op vrae te antwoord en in ’n stadium driftig gesê die saak teen hom is die werk van sy politieke vyande.

Hy het die hof ook gevra om voort te gaan met die borgaansoek.

Hy het die hof meegedeel dat hy die klaagster ken en nie met haar kontak sal maak of haar pro­beer beïnvloed nie.

Hy sal ook nie wegbly van die hof vir sy hofverskynings nie en nie by verdere misdaad betrokke raak of die regstelsel probeer belemmer nie.

Hy het egter volgens die hof nie sy ses vorige veroordelings, waaronder een van seksuele aanranding in 2013, verklaar in sy verklaring nie.

Die staatsaanklaer, Jacolize Jordaan, voer aan dat hy ook nie sy borgvoorwaardes in ’n verkrag­tingsaak wat onlangs deur die hof van die rol verwyder is, nagekom het nie. Die beweerde voorval tans voor die hof is glo gepleeg terwyl hy op borg was in die verkragtingsaak.

Jurgen Loff van Liesel Scholtz Prokureurs het die hof vir uitstel gevra tot Dinsdag 25 Oktober sodat hy hom vir die voortsetting van die borgaansoek kan voorberei.

Die aansoek word deur landdros Stephanie Strydom aangehoor.

• ’n Groepie vroue het Dinsdag buite die hof betoog teen die toestaan van borgtog vir die beskuldigde. (Deur Garnett Wicomb)