Die Hoorn kry nuwe eienaars

Van links is Schalk en Liesel le Roux wat Die Hoorn in Januarie 2001 op Oudtshoorn begin het en Die Hoorn se nuwe eienaars vanaf 1 November, Angelique en Jaco Erasmus.

OP 1 November breek ’n nuwe hoofstuk in Die Hoorn se geskiedenis aan wanneer dié gemeenskaps­koerant vir die Klein Karoo nuwe eienaars kry.

Die Hoorn, wat in Januarie 2001 deur Schalk en Liesel le Roux op Oudtshoorn begin is, se nuwe eienaars vanaf 1 November is Jaco en Angelique Erasmus.

Angelique is ’n oud-werknemer van Die Hoorn en was voorheen ’n joernalis by die koerant.

Sy sê sy het haar hart op die koerantwese verloor in die tydperk toe sy by Die Hoorn gewerk het, en voel met haar terugkeer hierheen of sy weer tuisgekom het.

“Ek en Jaco is dankbaar dat Schalk en Liesel ons vertrou het om Die Hoorn oor te neem en sien daarna uit om saam met Oudsthoorn en die res van die Klein Karoo se inwoners en besighede te werk.”

Liesel sal aanvanklik steeds deeltyds in ’n on­der­steuningsrol by die nuusafdeling betrokke wees terwyl Schalk aanvanklik in ’n raadgewende hoe­danigheid betrokke sal wees.

Schalk en Liesel sê dit was vir hulle ’n be­son­der­se pad wat hulle die afgelope byna 22 jaar met Die Hoorn geloop het.

“Ons is dankbaar teenoor almal wat ons met ope arms in die Klein Karoo ontvang het en almal wat die pad oor die jare saam met ons gestap het – in uitdagende én in goeie tye. Ons dink ook met dank­baarheid aan al die personeellede en vry­skutwerkers wat oor die jare saam gestap het.

“Ons wens Jaco en Angelique en die res van Die Hoorn se span net die beste toe, en wil ’n beroep op inwoners en besighede doen om die koerant en sy personeel te ondersteun.”

• Stuur vir Die Hoorn jou nuuswenke, nuusstories, foto’s en videos en ondersteun dié koerant met advertensies. Die Hoorn is sedert sy begin ons lesers se ‘eie koerant’ soos die woorde onder die koerantnaam op die voorblad aandui – raak dus betrokke!