
Vroue stoom die vere wat op pad was na die Moulin Rouge.

Volstruisboer Ockie Olivier en Peter Liebenberg (hoof: CKI Vere-afdeling) by van die besonderse George White-vere.
VAN die mooiste volstruisvere in die geskiedenis! So word die volstruisvere van Ockie Olivier van die plaas Welgeluk buite Oudtshoorn bestempel wat Cape Karoo International (CKI) vanjaar na die Moulin Rouge in Frankryk stuur.
Olivier is alombekend vir die kwaliteitvere wat hy oor die jare produseer het en die talle pryse wat hy daarvoor gewen het. Sy volstruise uit die George White-bloedlyn het daartoe meegedra dat Oudtshoorn wêreldwyd bekend geword het as die tuiste van die mooiste volstruisvere.
CKI verskaf al langer as ses dekades vere van die hoogste gehalte aan Europa se topmodehuise asook aan die Moulin Rouge vir hul dansers se eksotiese kostuums.
Peter Liebenberg, hoof: CKI Vere-afdeling, sê vanjaar se vere van die plaas Welgeluk is uitsonderlik, en tel vir seker onder die beste wat hy nog gesien het. Volgens hom is die gehalte van die vere veral merkwaardig omdat die volstruise waarvan dié besonderse vere geoes is, nie afgesonder is en op landerye geloop het nie.
“Hulle het in die veld geloop, hulle het geproduseer, daar is faktore soos die afgelope jare se erge droogte-toestande, en ondanks hierdie omstandighede het die George White-bloedlyn weer geskiedenis gemaak.”
Die George White-krulveervolstruise
Ockie Olivier se pragvere kom direk vanaf George White, een van Suid-Afrika se grootste volstruistelers nog.
White was ’n bekende volstruisboer van Grahamstad wat ’n besonderse krulveervolstruiswyfie in die dieretuin in Oos-Londen gesien en ná onderhandelinge met ’n ossewa en spesiaal geboude hok na sy plaas vervoer het.
Die wyfie was een van ’n groep krulveervolstruise wat die destydse Suid-Afrikaanse regering tydens die volstruisveer-bloeitydperk in die Arabiese woestyn opgespoor en na Suid-Afrika laat bring het.
White het in 1942 ’n volstruismannetjie met krulvere aan Olivier se oom, Johan, gestuur. Met dié volstruismannetjie het Johan en sy broer Manie hul volstruistelery begin, met Ockie wat dit later jare voortgesit het.
Olivier het van jongs af ’n besondere belangstelling in die teel van volstruise gehad en het voorheen aan Die Hoorn vertel dat hy nadat hy sy studie in 1964 aan die Elsenburg Landboukollege voltooi het, baie Saterdagoggende by boere in die distrik gaan kuier het, spesifiek om oor die kuns van volstruisteling vir vere van hoë gehalte te gesels. (Deur Liesel le Roux)
Interessante feite oor volstruise
• MEER as 250 mense is by die verefabriek op Oudtshoorn werksaam waar volstruisvere van landbouers ontvang en verwerk word tot ’n produk wat wêreldwyd in aanvraag is. Dié fabriek is dikwels ’n miernes van bedrywighede met werknemers wat met toewyding vere sorteer, stik, stoom, kleur, ens.
• Suid-Afrika produseer die meeste van die wêreld se volstruisprodukte
• Volstruise word tot 35 jaar oud – en mak voëls tot 45 jaar. Die oudste volstruis in Oudtshoorn het 81 jaar oud geword.
• Volstruise se oë weeg 60 g en die brein net 40 g. Hulle het dus baie goeie sig en kan voorwerpe tot op ’n afstand van 3 km raaksien. Omdat hulle nekke so lank is, kan hulle hul oë en nek amper soos ’n periskoop op ’n duikboot gebruik en reg rondom hulle sien.
• ’n Volstruis kan gevaarlik wees. Hulle is die enigste voëls met twee tone aan elke poot. Aan die groottone is ’n gevaarlike toonnael van 7 cm lank wat skade kan aanrig as die volstruis sou skop.
(Inligting: CKI)