DIE tonge het die afgelope week geklap oor ’n luiperd wat Saterdagaand omstreeks 21:30 deur ’n Oudtshoorniet in Meiringspoort in die omgewing van die Meiringspoort-waterval afgeneem is.
Susan Afrika vertel sy en haar man was in drie voertuie op pad terug Oudtshoorn toe na ’n familiebyeenkoms in Prins Albert. Sy en haar man, Lyndon-Leigh Afrika, het in die voorste voertuig gery.
“Toe ons in Meiringspoort om ’n draai kom, het die luiperd in die pad gelê.
“Dit het net soos ’n groot kat gelyk, maar toe hy opstaan, het ons besef: Nee, hierdie is nie ’n kat nie!
“My man het toe hy die luiperd sien, net gesê: video, video, video, en ek het ’n video van die luiperd begin neem.
“Om so iets te kon beleef, was wonderlik!”
“Dit was ’n belewenis,” voeg Lyndo-Leigh by.
Twee Oudtshoorniete wat die video kort na die voorval aangestuur het, Jakob en Maria Konstabel, het in een van die ander voertuie gery. Volgens Jakob was dit vir hulle net so ’n spesiale ervaring.
Hy sê hy kom van Klaarstroom af, maar het in sy 52 jaar nog nooit voorheen ’n luiperd in daardie omgewing gesien nie.
Dit is bekend dat daar steeds luiperds in Meiringspoort voorkom, asook in ander bergagtige dele in die Klein Karoo, maar om hulle te sien, is ’n baie seldsame ervaring. (Deur Liesel le Roux)
Tonge klap oor luiperd in Meiringspoort
Meiringspoort se luiperd Saterdagaand laat afgeneem. Foto: Susan Afrika