Dis my sussie

Bo: Mandri Sutherland is te sien by vanjaar se KKNK in Vrou ens. 1.2. Foto's verskaf.

Vir baie is sy ’n aktrise, kunstenaar en die vrou agter die eenvroustuk Vrou Ens. Maar vir my is sy my sussie – Mandri. En my hart bars van trots! Wie sou dink dat ons albei vandag in die media- en vermaakbedryf ons merk maak.

Van kleins af was dit duidelik: Mandri hoort op ’n verhoog. Sy het as kind haar eie stories uitgedink, karakters geskep en mense laat lag – lank voor daar sprake was van ’n beroep in die kunste.

Vandag staan sy op die verhoog by die Klein Karoo Nasionale Kuns-tefees (KKNK) met Vrou ens. 1.2 – ’n produksie wat nie net vermaak nie, maar ontbloot.

“Die stuk kyk eerlik na vrouwees, identiteit en die kompleksiteite van die moderne lewe – soms snaaks, soms rou, maar altyd eg,” som Mandri op.

Hierdie stuk volg op haar eerste eenvroustuk, Vrou ens., wat sy in 2022 geskryf het en ook in 2023 by die KKNK opgevoer het. Haar eerste huiskonsert was in 2020, Lilith en Lesbet trou saam met Nicolene Burger.

Mandri woon tans in Kaapstad en het oor die jare ’n indrukwekkende loopbaan opgebou in teater, televisie en film.

Sy het in verskeie produksies gespeel, onder meer Trompoppie, Magda Louw, Taktiek en Marie se laaste dag, en het haarself gevestig as ’n veelsydige aktrise wat ewe gemaklik tussen drama en komedie beweeg.

Maar wat baie mense nie altyd besef nie, is hoe wyd haar talent strek. Buiten haar werk as aktrise, is sy ook ’n bekende en gesogte seremoniemeester (SM) en aanbieder by verskeie hoëprofiel-geleenthede.

Mandri Sutherland en Angelique Erasmus, albei sussies in die media- en vermaaklikheidsbedryf.

Sy tree gereeld op as SM by korporatiewe funksies, kunstefeeste en vermaaklikheidsgeleenthede, waar haar spontane humor en natuurlike gemak met mense haar ’n gunsteling op enige verhoog maak.

Van kunstefeeste en teatergeleenthede tot privaat en korporatiewe funksies – Mandri se vermoë om ’n gehoor te lees en die energie te dra, maak haar meer as net ’n aktrise; sy is ’n volbloed vermaaklikheidskunstenaar. Sy het ook ’n gewilde reeks met die slagspreuk “Hello Sussa, ek hoopit gaan goed” en “Luf u Lots”. Maak seker jy koop jou T-Hemp of plakker.

In 2023 is sy bekroon as Beste Aktrise én vir Innoverende Werk by die Vrystaat Kunstefees. Tydens 2024 se kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie is sy aangewys as beste byspeler in ’n komedie vir haar rol in Taktiek.

Met haar eenvroustuk Vrou ens. het sy sowat 170 vertonings – selfs in mense se sitkamers regoor Suid-Afrika en Europa – het sy gehore op ’n intieme manier bereik en geraak.. Dit is juis hierdie vermoë om mense op ’n persoonlike vlak aan te raak wat haar werk so besonders maak.

Maar vir my is sy Mandri. Die een wat nog altyd anders gekyk het na die wêreld. Die een wat stories sien waar ander dit miskyk. Die een wat nie bang is om eerlik te wees nie.

En nou staan sy weer op ’n verhoog – presies waar sy hoort. En sy laat mense voel.

Vrou ens. 1.2 is te sien by die Netwerk24 Feeskafee op 1 April 2026 – 20:00, 2 April 2026 – 18:00, 3 April 2026 – 16:00, 4 April 2026 – 18:00. Kaartjies kan bespreek word by Webstickets en is beskikbaar by die deur. Geen o. 16. (ANGELIQUE ERASMUS)