Baie dinge en ontwikkelinge het die afgelope drie maande op die Covid-front gebeur – die virus bly egter, juis met die heropflikkering, sy hewigheid en stormagtige verloop behou. Die verskil is net dat jonger mense wat dit nou kry oor die algemeen gesonder is.
Al hoe meer jonger mense raak dus nou positief en is meestal nie siek nie. Dit bly nog vir my ongemaklik om van ’n Covid-positiewe pasiënt, wat absoluut nie siek is nie, as ’n geval te praat.
Die toename in positiewe gevalle was te wagte en dit is ook hoe die gemeenskap dan die sogenaamde tropimmuniteit kry. Steeds bly die aantal jong kinders baie skaars en sien ons selde indien ooit kinders wat siek is.
Dit bring my terug na my grootste hartseer tydens die hele pandemie, naamlik die onregverdige, onmenslike en onsinnige beleid wat in aftree-oorde toegepas is en selfs steeds drakonies toegepas word.
Bejaardes het hierdie land en alles wat daarin is tot stand gebring , ongeag ras of status, elkeen het sy belangrike deel bygedra. Hulle het ook miljoene rande tot die staatskas met belastings bygedra.
Mense wat dit kan bekostig, vestig hul in aftreeoorde; ander het die daardie luuksheid nie en bly by kinders of in staats- of ander behuising of oorde.
Maak nie saak nie, elkeen verdien net die bes moontlike geriewe en sorg.
Dit sou sekerlik die beste wees dat Ouma na Oupa se afsterwe by familie bly. Daar is gemeenskappe en kulture waar dit algemeen so aanvaar word en Ouma, in die afwesigheid van werkende, afwesige of lui moeders, versorg en leer ook sommer die kinders skoolwerk, maniere en kultuur. In baie gesinne is daar nie ’n verantwoordelike pa nie – so Ouma en Oupa is baie belangrike skakels in die kinders se lewenskettings.
Ongelukkig het dinge, veral in gegoede en veral wit gemeenskappe, verander en ’n steeds gesonde Ouma word nou gerangeer na ’n plek waar sy “beter versorg kan word.” Sodoende meng Ouma nie in met skoondogter/skoonseun se visie vir die gesin nie en is sy tot bevrediging van almal versorg.
Ouma het dus nou ’n nuwe huis op 80 en sy beter nou “adapt or die”. Ek bedoel nie om die alledaagse scenario in ’n slegte lig te stel nie. In die meeste gevalle is dit net eenvoudig prakties onmoontlik om Ouma in die huis te hou en kinders is nie altyd in die dorp waar Ouma se geskiedenis, vriende, kerk en dokter is nie. Ek probeer die leser net in ouma se belewenis en reaksie op die veranderde lewe inplaas, veral as sy gewoond was aan mense, aandag en oorvloedige liefde om haar.
Kom ons beperk ons dus by Ouma in die siekeboeg, nog nie verswak of demensies nie. Sy kan net-net haar selfoontjie bewerk en skrik as die ding lui en sy leef vir die kuier van kinders, maar veral kleinkinders.
Skielik, sonder dat sy verstaan of weet, verdwyn alle besoeke en kontak met haar geliefdes, en al probeer goeie liefdevolle personeel (ja, daar is versorgers wat omgee) hoe ook al, is daar nie ’n manier wat die leë, pynlike, onbeskryflike gat en verlies in hulle harte en siel vervul kan word nie.
Indien jy aan my die keuse gee of ek my kleinkinders vir een hele week ’n paar keer kan sien en dan met ’n glimlag op my gelaat rustig en in vrede sterf, en of ek alleen sonder familiebesoeke moet wees – angstig, bekommerd, met wonder en wroeg waar hulle dan is, is die keuse maklik.
Bogenoemde emosies en hartseer het ek met tientalle bejaardes die afgelope nege maande deurgemaak. Ek het hulle hartseer met lawwe grappe, liedjies, video’s en drukkies probeer minder maak.
Daar was personeel wat werklik omgegee het, daar was personeel wat minder omgegee het en daar was mense in beheer wat nie die begrip van menslikheid en realisme wou verstaan nie.
Baie bejaardes het die begrip en emosionele belewenis van byvoorbeeld ’n kind van hoogstens 10 jaar oud – wie sal dan sy kind net so alleen in ’n kamer of oord tydens ’n pandemie los?
Wie is ons en enigiemand wat hulle die reg toe-eien om mense toe te sluit en hulle familie te belet?
Wie is beheerrade wat mense onwettig beboet indien hulle in hulle eie huise een of twee besoekers met die voorgeskrewe sosiale distansiëring en beskerming wil geniet?
Watter sin maak dit om hulle toe te laat om inkopies in besige winkels te doen, maar hulle mag nie hulle kleinkinders sien nie?
Ek weet daar is sekere wetlike en regsaspekte hier betrokke, maar dit is die rigiede, onsimpatieke en ontoepaslike houding van mense in beheer wat die verskil tussen ’n bejaarde-vriendelike oord of verpligte onderwerping tot gevolg het.
Mens moet nooit vergeet dat die huis, kamer of siekeboeg in die oord daardie betrokke bejaarde se woning is nie. Dit is as’t ware sy of haar laaste loopgraaf waar hulle òf verbete vasskop, òf oorleef, òf gelate op hulle einde wag.
Hoe dit ook al sy, dit vereis dat ons – hulle versorgers – hulle met die nodige waardigheid, respek, geduld en liefde hanteer, én hul familie nie as lastige indringers tydens besoeke hanteer te word nie.
Ek was eendag geskok toe ek skielik hulp by ’n bejaarde benodig toe sy naar geword het en self die noodknoppie moes druk. ’n Vrou wat tee bedien, het al skellend die kamer ingestorm met: “Hoekom druk julle al weer die knoppie?”
Dit was nogal pynlik om sien hoe die verbouereerde bang tannies met bewende krom vingertjies my as die skuldige uitwys.
Ek weet dat die meerderheid personeel in aftreeoorde nou in verontwaardiging stik, maar as u nie weet daar is swartskape soos in elke beroep (ook dokters en dominees) nie, is ons volstruise wat kwasi-onskuldig ons koppe in sand verdwerg.
Opsommenderwys – moenie jou wil, wrewel en frustrasie en ontoepaslike dissipline op weerlose oumense en hul families uithaal nie. Onthou, sonder die bejaardes het jy nie werk gehad nie. Jy werk eintlik vir hulle en nie met hulle nie. Eintlik betaal hulle hul versorging en voedsel elke maand vooruit, eintlik skuld u die mense vooruit.
Hanteer hulle te alle tye soos jy jouself en jou ouers hanteer wil hê. Moenie onderskeid tussen mense tref nie. Die versorging van bejaardes eis uiters liefdevolle, vriendelike en hulpvaardige selfopofferende mense – daarvan is daar gelukkig baie op Oudtshoorn! Ek is self uiters beïndruk met die liefdevolle personeel en gesindheid in ons gesubsidieerde oorde Bellinganhof en Coronation wat met beperkte fondse ’n fantastiese liefdesdiens verrig.
Dit is belangrik dat almal betrokke en waaksaam moet wees om bejaardesorg op die bes moontlike vlak te behou – jou beroerte of ernstige siekte wag dalk vir jou ook om die draai.
Verseker jou toekomstige versorging deur te help sorg dat ons bejaardes kry wat hulle reeds in hulle lang lewe verdien het – veilige, geborge sekuriteit en liefde!
1 Comment on "Dié virus wil maar net nie gaan rus nie"
Comments are closed.
Ek 43jaar en my moeder 84jaar woon in te huis
Ons is al moeg vir inperk en geen besoeke sonder afspraak maar dis +_ 10min, my broer in Colesberg en my suster in Germiston my blind, ons verlang al en ons hardhorend so kan nie mooi hoor oor selfoon.
Ja hoeveel bejaardes treur wat geliefdes nie kan sien en as lockdown eendag oor is ĺei miskien aan dimensie lei of dalk nooit.