Klein Karoo Saadproduksie se produsente wat die naasbeste gevaar het met saadproduksie tydens die afgelope jaar is voor van links Gawie Lategan (F1 Uie groter as 3 ha), Pieter Burger (produksiebestuurder KKSP), David Malan (besturende direkteur KKSP), Johan Strasheim (voorsitter van KKSP-direksie), André Bruwer (OP Rooi Uie) en André Rabie (OP Geel Uie Kleiner as 3 ha), en agter van links Cobus Grundling (OP Wortels), Coenie Lategan (F1 Uie groter as 3 ha), Louis Jonck (OP Wortels), Duo Faure (F1 Lenteuie), Sarel du Plessis (OP Lenteuie), Johan Matthee (F1 Uie Geel kleiner as 3 ha), Adriaan Conradie (OP Geel Uie Kleiner as 3 ha), Louis Zaayman (OP Geel Uie groter as 3 ha en New Bunching), Jurie Klue (F1 Wortels) en Ernst Marais (F1 Rooi uie).
Merietetoekennings vir produksie is toegeken aan Nadia Viljoen (regs voor) en agter van links Gustav Lund, Edward Wisse, Riaan Fourie en Gert Husselman. By hulle is voor van links Pieter Burger, David Malan en Johan Strasheim.
Jolandi Leen (links) van Kobus se Kwekery wat erkenning gekry het as Opkomende Landboubesigheid van die Jaar) en Coenie en Gawie Lategan (naasregs en regs) wat erkenning gekry het as beste Nuwe Toetreders van die Jaar. By hulle is David Malan en Pieter Burger.

Saadprodusente geniet ontbyt saam met KKSP voor die saadmaat-skappy
se jaarlikse erkenningsgeleentheid.
Produsente baat by KKSP se hoër omset

David Malan, besturende direkteur van Klein Karoo Saadproduksie, aan die woord.
DIE omset van Klein Karoo Saadproduksie (KKSP) het die afgelope jaar met 24% gegroei wat dit moontlik gemaak het om aan saadprodusente ’n hupstoot van R21,5miljoen in aanvullende uitbetalings te gee, die hoogste wat dit nog was.
Dit is die goeie nuus wat David Malan, be-sturende direkteur van KKSP, op Woensdag, 28 Oktober, tydens ’n erkenningsgeleentheid met saadprodusente by die Buffelsdrift Wildplaas naby Oudtshoorn gedeel het.
Hy het dié goeie prestasie toegeskryf aan onder meer goeie opbrengs en die wisselkoers wat baie gunstig was.
Hy het voorts genoem dat KKSP sowat 50% van al Suid-Afrika se groentesaad produseer, ook ten opsigte van die onderskeie soorte groentesaad.
Oor Covid-19 het hy gesê die saadbesigheid het wêreldwyd voordeel getrek uit die pandemie deurdat dit bygedra het tot verkope. Een van die faktore wat tot dié voordeel bygedra het, is dat mense in hul huistuine begin groente kweek het en dus meer saad gekoop het. “Dit het klomp saad uit die mark geneem. Dit kan ’n tyd lank so aanhou, maar sal dan na verwagting weer afneem.”
Malan sê die impak van Covid-19 op restaurante, hotelle en toerismebesighede het daartoe gelei dat die verkope van slaai, tamaties en lenteuie afgeneem het. Boere het ophou plant en nie saad gekoop nie wat tot ’n saadopbou gelei het en ’n inkrimping in die mark tot gevolg gaan hê. Uie is minder beïnvloed deur Covid-19.
Malan het met verwysing na die geweldige druk waaronder die wêreldwye ekonomie verkeer, gesê enige prysverhogings in dollar/euro-terme gaan baie moeilik wees.
“Die prentjie in die medium termyn is nie goed nie, maar oor die langtermyn lyk dit baie positief.”
Met verwysing na tendense in die mark neem die vraag na saad van hoër gehalte toe soos presisieboerdery toeneem.
“Ons probeer egter die mark diversifiseer. Ons sê vir kliënte ons verstaan jy wil hoër gehalte hê, maar dit kom teen ’n hoër prys.
“Die standaardprys soos ooreengekom is vir 85% ontkieming terwyl daar druk is dat dit 90% moes wees.
“Ons probeer werklik tot elke prys u as produsent beskerm deur nie toe te laat dat hierdie kwaliteitstandaarde met ons weghardloop nie. Maar dit bly belangrik om in ag te neem dat die markvereistes al hoër raak,” het hy gesê.
Ter afsluiting het Malan gesê in Suid-Afrika en wêreldwyd word verwag dat landbou en veral saad in landbou die sentrale drywer gaan wees om ekonomieë te herstel, want mense moet eet.
“Ek dink dat landbou aan die vooraand staan van ’n baie goeie groei. Ons is ook seker sodra ons deur hierdie Covid-19-driffie is gaan ons van 2023 groot voor-dele in die mark sien. Die toekoms van saadproduksie lyk baie goed,” het Malan gesê.
Die krag daarvan as mense saamstem

Jannie Putter aan die woord.
“JY is wat jy dink en sê. Deur in hoopvolle geloof te leef en dit uit te spreek, daag jy die realiteite uit waarmee ons saamleef.”
Dit was deel van ’n inspirerende boodskap by KKSP se erkenningsgeleentheid deur die sportsielkundige, skrywer, spre-ker en geestelike afrigter Jannie Putter.
Putter, wat virtueel met produsente gepraat het, was onder meer jare lank die mental coach van die Blou Bulle, daarna van die Goue Leeus en ook twee jaar lank van Orlando Pirates.
Hy het produsente aangemoedig om in ’n wêreld waar die daaglikse realiteite mense kan verblind en negatief maak, eerder in geloof te leef en te praat. “Beoefen geloof totdat dit jou realiteit word. Jy moet ’n ‘ja-maar-mens’ word teenoor die realiteite van die wêreld.”
Hy het vertel sy lewe het ver-ander nadat hy so begin leef het. “Ek was 24 jaar gelede ’n slagoffer van die realiteit, van die lewe – op die punt van ’n egskeiding, werkloos, arm – jou persepsie word jou realiteit.
“Verander jou persepsie en kyk hoe jou waarheid verander.
“Geloof is om seker te wees van dit wat ek hoop. Ons moet begin praat oor wat ons hoop. My realiteit nou is dat daar ’n antwoord en ’n oplossing is.”
Hy het voorts die beginsel van sinergie beklemtoon. “Twee mense is saam nie net twee keer sterker as een mens nie, maar baie keer sterker. Wanneer men-se begin saamdoen en saamstem, vind sinergie plaas wat die realiteit uitdaag.
“Kom ons stem saam. Ek wil hê almal van julle moet saam met my sê: Die Here is lief vir my. Sy guns is oor my; daarom gaan dit goed met my. Ek is deel van ’n familie en ’n gemeenskap waar ons saamstem oor wat goed is.
Ons bring die beste uit mekaar, en ons het baie pret saam. Ek is gedissiplineerd en neem wyse besluite. Ek het meer as genoeg, my beker loop oor, want God is my bron.”