Deur Johan Strasheim
Die IT-bedryf in die vorige eeu was ’n heel ander besigheid as wat dit tans is. My maatskappy was bedrywig in die IT-bedryf op allerlei fronte en ons was baie besig en suksesvol. Charlie was my regterhand en ons het saamgewerk soos vinkel en koljander. Ek het die onderneming bestuur en die tegniese sy van dinge hanteer, terwyl Charlie die ou was wat die grootste deel van die bemarking hanteer het. Hy het ook die aankope van rekenaartoerusting uit die uithoeke van die wêreld met groot sukses hanteer.
Charlie was ’n unieke karakter met sy kaal kop op ’n redelike jong ouderdom. (Hy was oortuig die lang periodes in die warm son van Suidwes en Angola met staaldakke en boshoede tydens die grensoorlog het sy hare laat uitval. Wie sal ooit weet?!)
Ons het baie gevlieg met SAL in daardie dae – toe SAL nog ’n vlagskip vir ons land was en ’n lugdiens om op trots te wees. Hoe het dinge nie verander nie! Ons het veral Durban, Port Elizabeth en Kaapstad toe gevlieg waar ons groot kliënte gehad het. Dit was in ’n stadium so gereeld dat ek en die kajuitbemanning mekaar so goed geken het dat hulle vir my spesiaal pakkies koekies vir my klein kindertjies by die huis gebring het! Die kinders was gek oor die klein pakkies grondboontjies en koekies.
So is Charlie en ek een dag weer in Durban en ons trek ’n bietjie laat weg uit die middestad uit lughawe toe. Ek bestuur die klein Avis-Golfie die dag. Die laatmiddag-stadsverkeer is so dik soos stroop. Ons vleg soos gebruiklik dringend daardeur en uiteindelik draai ons op die suidelike hoofweg lughawe toe – reg agter ’n bakkie met een van daai aluminium-“containers” wat in ’n vliegtuig se romp ingaan agterop.
Omdat ons laat is, ry ek natuurlik op sy stert – iets wat my vandag eindeloos irriteer wanneer iemand dit doen. Die oprit na die suidelike hoofweg na die lughawe maak so ’n lang, stywe draai na links. Toe ons bo kom, kyk ek vinnig oor my regterskouer en sien alles is skoon, terwyl ek die Golfie na regs agter die bakkie “uitruk”.
Terwyl ek nog regs beweeg en intens op die verkeer konsentreer, vlieg die “container” van die bakkie af en land in die pad waar ons pas met die rooi Golfie was! Dit spat uitmekaar met ’n groot lawaai – omtrent ’n meter van Charlie in die passasiersitplek af. Toe ek terugkyk sit Charlie met sy kop in sy hande en sy voete op die “dashboard” terwyl hy een lang uitgerekte kermgeluid maak.
Ek sê maar vir hom: “Don’t worry, Charlie … our guardian angels are on duty today!” Ek en Charlie het Engels met mekaar gepraat.
Die verkeer is egter druk en ek kan nie in sy angs deel nie. Ek jaag verder met die Golfie. Toe ons by die lughawe-afrit kom, is my skatting hopeloos uit en moet ek onbeskof met die gebruiklike simpel “waai-gebaar”, wat almal gebruik wanneer hulle tussen twee motors indruk, uit die regterbaan na die afrit links beweeg. Natuurlik volspoed, of ons mis die afrit, met ’n horde slegte gevolge! Jonk, roekeloos en “bulletproof”. Eintlik onnosel.
Met ’n klomp handgebare wat ek liefs ignoreer en ’n spektrum toeters wat blaas, trek ons maar ons koppe in ons skouers in en sleep van die hoofweg af en is sowaar betyds vir die vlug terug Johannesburg toe.
In daardie dae was die lugdiens baie anders as deesdae. Baie anders.
Uiteindelik sit ons op die Boeing en voor jy weet, is ons in die lug. Die lugwaardinne kom met trollies verby en vra of ons iets wil drink. Charlie bestel twee dubbel-whiskys met soda. Die lugwaardin gee hom wat hy wil hê en sy mik verder. Hy herinner haar: “Excuse me, Ma’m, this is for me.
He’ll decide his own,” en hy wys na my.
Die twee dubbels was vir hom! Almal lag lekker en sy gee my toe ook iets. Voor ek kon sê “mes” is sy twee dubbels geskiedenis. Ek suig rustig aan my bier terwyl Charlie my stip aankyk en ek dit doelbewus ignoreer.
Uiteindelik kyk ek sylangs na hom en hy trap my onmiddelik uit: “Don’t ever do that to me again! I need my guardian angels to do other things for me.” Natuurlik met ’n spektrum ander (lelike) woorde daarby…
Charlie en ek was ’n gedugte span. Ongelukkig loop die lewe draaie wat mens nie altyd kan voorsien nie. Teen die einde van die vorige eeu het die bedryf baie begin verander en die besigheid het verander. Charlie en ek is uiteindelik uitmekaar, maar het voortdurend in verbinding gebly. Sy lewensverloop het egter ’n paar jaar later skielik ’n baie hartseer wending geneem en my ou spanmaat het besluit om sy eie lewe te neem. Sy onbekende kruis is saam met hom graf toe.
Charlie se beskermengel was seker nie op diens daardie noodlottige dag 15 jaar gelede nie. Hoe jammer is dit nie. Die les is seker dat ’n ou hulle gunste nie moet misbruik nie!