DIE Covid-19-pandemie het ons almal se wêreld baie vinnig verander.
Buiten die stres oor die moontlike opdoen van die virus, ervaar baie mense ook stres oor hul familie en vriende, finansies, ens,ens. By Die Hoorn het ons ook die laaste tyd bewus geword van verskeie selfdoodvoorvalle onder jong mense. Ons wou weet wat die uitwerking van die pandemie op mense is. Is dit normaal dat ’n magdom mense nou depressie van een of ander aard ondervind?
Volgens ’n kliniese en pastorale sielkundige van Oudtshoorn, ds Petrus Theron, is die kort antwoord hierop: “Ja, dit is!”
“Covid-19 is ’n potensieel dodelike virus vir ons almal, hoewel ouer mense en mense met onderliggende mediese toestande soos diabetes, hartkwale, nierkwale, rokers en mense wat oorgewig is ’n groter risiko loop om as gevolg van die virus ernstig siek te word en selfs te sterf. Sommige is veiliger as ander, maar niémand is veilig nie.”
Theron sê psigologies-gesproke is die virus dus vir almal ’n bedreiging, en wel op talle gebiede.
“Ons word direk met die dood gekonfronteer; en meer nog, as gevolg van die regering se drastiese reaksie met wydlopende gevolge om die virus te probeer hokslaan, word ons ekonomiese voortbestaan en oorlewing ook bedreig. Die reaksie op die virus neem brood weg van mense se tafels.
“Daarom is dit natuurlik vir mense om in so ’n toestand van bedreiging erge angs en vrees te beleef.”
Theron sê dat dit juis die angs is wat mense affekteer omdat dit gewoonlik met ’n bedreiging van die een of ander aard te make het. Hy sê ons is as’t ware fisiologies gerat om ter wille van oorlewing met angs op bedreiging te reageer.
“Dit dien tot ons beskerming en oorlewing. Maar angs in ’n erge graad kan ons ook verlam en immobiliseer,” maan hy.
Die virus affekteer of bedreig mense volgens Theron tans op ’n fisieke en psigiese manier.
“Ons word fisiek bedreig wanneer ons letterlik met die dood gekonfronteer word deur ’n ernstige siekte, en psigies wanneer ons byvoorbeeld ’n verlies van beheer en kontrole ervaar, asook onsekerheid oor wat die toekoms inhou.”
Theron sê mense word nou fisiek gekonfronteer word met hul ekonomiese oorlewing: “Waar gaan ek geld kry om die rekeninge te betaal en brood op die tafel te kry?”
Psigies, sê hy, word hulle deur ’n verlies aan status en die ervaring van mislukking bedreig: “Ek het my werk verloor en kan nie meer in my gesin se behoeftes voorsien nie.”
Depressie het volgens hom dikwels met ’n verlies van die een of ander aard te make.
“Die verlies van werk is een voorbeeld. Gepaardgaande daarmee is ’n verlies van beheer en status met die gevolglike impak op hoe ek oor myself dink en oor myself voel; dus my selfbeeld.
“Die angel van die inperking het te make met die verlies aan vryheid waaronder ons almal deurloop. Vryheid is ’n grondliggende menslike behoefte – die behoefte om self keuses te maak en nie aan bande gelê te word deur magte sterker as onsself nie. Daarom is dit normaal om in hierdie ongekende tye ’n mate van neerslagtigheid sowel as angs en stres te beleef.”
Alle mense reageer egter nie dieselfde op dié invloede op hul lewens nie, met party mense wat fisiologies en psigologies meer kwesbaar is as ander.
Hy is egter huiwerig om enige selfdood of pogings daartoe aan die pandemie toe te skryf.
“My huiwering het te make met die feit dat selfdood ’n ingewikkelde psigologiese verskynsel is wat moeilik volkome en afdoende verklaar kan word deur eenvoudige oorsaaklike verbande te lê. Die mens se sterk ingebore oorlewingsinstink en -drang is gerig op die voortsetting van lewe, dus selfbewaring, en nie die dood of selfvernietiging nie. Ons is nie ontwerp om ons eie ondergang te bewerkstellig nie.”
Theron sê egter die stres, angs en depressie wat deur die pandemie gekweek word, kan wel ’n rol speel in die sin dat dit die laaste spreekwoordelike “strooi was wat die kameel se rug gebreek het”.
Maar wat gemaak met al die gevoelens wat die pandemie veroorsaak, en hoe leef mens daarmee saam? Volgens Theron speel hierdie gevoelens, “hoe onaangenaam ook al”, ’n belangrike rol in ons psigiese oorlewing.
“Dit kan vergelyk word met die rooi waarskuwingsligte op ’n motor se paneelbord. Die funksie daarvan is om aan die bestuurder te kommunikeer dat daar iewers ’n fout is wat dringend aandag verg. Negatiewe emosies is soos rooi waarskuwingsligte en wil kommunikeer dat daar iewers fout is.
My lewe verloop nie soos wat ek dit voorsien het nie en ek beleef derhalwe erge frustrasie. In dié sin is negatiewe emosies ons vriende. Dit maak ons bewus van probleme wat aandag verg.
“Mens moet dus nie die ‘rooi ligte’ ignoreer of verdoof nie, soos sommige mense sal doen met alkohol of dwelms nie, maar eerder met iemand daaroor praat. Indien die gevoelens voortduur is dit raadsaam om professionele hulp te kry.”
Ten slotte haal Theron die Gebed om Gemoedskalmte van Reinhold Niebuhr aan: “God, gee aan my die gemoedskalmte om die dinge te verander wat ek kan verander; Die moed om die dinge wat ek nie kan verander nie te aanvaar; en die wysheid om die verskil te ken.” (Deur Stefan Skapie Goosen)