De Rust Films wen beste
klank-redigering in Filmresies

Bo: Slegs drie akteurs mag aan die rolprent deelneem. Hier is Chris Oosthuizen, Tamar Palkowski en Michael Strydom in aksie. Onder: Ben Pretorius, die regiseur, agter ’n baie kompakte kamerastelsel, besig om te verfilm.

“EK was besig om burgers te flip in my kos-van. Die volgende oomblik is ek lead actor in ’n movie!”

So skerts Michael Strydom toe hy ver­lede Saterdag inderhaas nader gehark is om ’n rol vir De Rust Films te vertolk wat jaarliks aan Garden Route Media se 48 Hour Film Race deelneem.

Dié span van De Rust het verlede jaar die tweede plek in die afdeling behaal.

Die regiseur, Ben Pretorius, verduidelik die sowat 44 spanne van regoor die land wat deelgeneem het, het Vrydagaand gehoor in watter genre hulle elkeen val – wat enigiets van drama, Western tot komedie kon wees.

“Toe gooi ek en die span maar ’n wyntjie of wat en probeer ’n storie saamflans. Ons kon kies tussen avontuur of aksie. Na middernag was ek poegaai geskryf aan ’n “aksie’-draaiboek en toe kyk ek die ding so. Te veel moes in te min tyd gebeur.”

Ben het toe die volgende oggend ’n “avontuur”-draaiboek geskryf, maar toe is sy akteurs nie een beskikbaar nie.

“En dit is toe dat Michael die hoofrol kry,” vertel Ben. “Dit was nie eens nodig om hom na die make-up-departement te stuur nie. Hy lyk sommer reg vir die rol van ’n depressiewe hippie!”

Die Saterdag het ons geskiet, Sondag is geredigeer en die aand is die fliek, Die Secret Combi Klub, deurgestuur.

De Rust Films se poging het hulle uiteindelik ’n skaflike vierde plek in die semi-professionele afdeling besorg asook algeheel beste klankredigering.

Die span is ook gekomplimenteer oor die mooi omgewing waarin geskiet is, wat eintlik heel maklik was danksy Hanri en Wilhelm de Swardt se huis en Meiringspoort, sê Ben.

• Kyk na die fliek op Youtube. Soek na Die Secret Combi Klub. (Maak net doodseker dat Combi met ’n C gespel word!)