Coetzee steeds volstoom besig om Kansa se interim-huis te help

Japie Coetzee van Oudtshoorn en Gret­chen Coe­recius van Mosselbaai wat ’n groot klomp items by hom kom afgee het vir Kansa se interim-huis in George waar kankerpasiënte uit buurdorpe kan oorbly. Coetzee gesels volgende week op die TV-program Dankie, Lottoland oor sy betrokkenheid by dié huis. Foto verskaf

HY is baie dankbaar vir ’n ruim sken­king van Gretchen Coerecius van Mosselbaai wat hy onlangs aan die Irma Bruschi Interim-huis op George kon oorhandig, sê Japie Coet­zee, bekende inwoner van Oudts­hoorn.

In dié interimhuis kan kan­ker­pasiënte van Oudtshoorn en ander buur­dorpe tydens bestraling- en che­mo­terapiebehandeling vir tot ses weke lank oorbly.

Coetzee het by die huis betrokke geraak toe sy vrou, Jane, voor haar dood in 2020 daar oorgebly het, en hy het hom sedertdien daartoe ver­bind om te help om fondse en krui­deniersware vir die huis in te samel.

“Ek is so beïndruk met hierdie pragtige jong dame,” sê Coetzee oor Coerecius.

“Sy het haar eie projekte waardeur sy uitreik na mense in nood en gee kos, oorhandig hampers, versorg kinders en sien om na almal in nood.

“Sy is inderdaad ’n engel.

“En te midde van dit alles was sy bereid om van haar eie projekte se donasies vir die interim-huis te skenk.”

Coetzee gesels volgende week Woensdag (12 Oktober) ook in die TV-program Dankie, Lottoland wat die Irma Bruschi Interim-huis besoek.

Die program word op DSTV kanaal 144 om 21:30 uitgesaai en ook weer op Sondag 16 Oktober om 17:00.

• Coetzee het individue en instansies soos kerke, sportklubs, politieke partye, besighede en nie-regeringsorganisasies aangemoedig om by die interim-huis betrokke te raak deur geld, beddegoed of kruideniersware te skenk. Skenkings kan by die huis in Merrimanstraat 103 in George afgegee word of Coetzee kan by sel 082 598 7273 gekontak word sodat hy dit kan kom oplaai en na die huis neem. (Deur Liesel le Roux)