DIE Oudtshoorn Polisie het die week ’n lys van wenke saamgestel om misdaad by besigheidspersele, asook persele wat nie privaatwonings is nie, te voorkom.
“Ons deel hiermee ’n paar voorstelle en wenke om die moontlikheid van inbrake te verlaag en om ander misdrywe soos roof tot die minimum te beperk. Om dit te kan doen het ons egter u samewerking en hulp nodig,” sê ao Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder:
• Instaleer ’n alarm of sorg dat die bestaande een in ’n werkende toestand is.
• Sekuriteitswagte is ’n uitstekende manier om misdadigers weg te hou uit ’n winkel. Jy is ’n makliker teiken as jy nie ’n wag het nie.
• Gaan jou perseel van voor tot agter deur voordat jy dit sluit. Maak seker alle deure en vensters is gesluit.
• Maak seker daar is nie plekke waar maklik toegang verkry kan word nie soos vensters sonder diefwering. Gebreekte of beskadigde deure is ook ’n maklike teiken.
• Besighede in dieselfde gebied ondervind dikwels dieselfde probleme, byvoorbeeld verdagte persone. Praat met mekaar, miskien kan julle mekaar help, of meld dit aan by die SAPD.
• Selfone en skootrekenaars is items wat maklik gesteel kan word. Moet dit onder geen omstandighede onbewaak in ’n kantoor los en nie toesluit nie.
• Selfone word maklik geroof, veral as iemand daarmee in die hand loop. Bêre dit weg as jy in die straat loop. Dit is maklik om ’n selfoon te gryp en te hardloop.
• Moenie met groot bedrae kontant rondbeweeg nie. Mense wat roof, is ’n probleem in die dorp. Werk asb saam om dit te verminder.
• Skakel asb die polisie se beheerkamer by 044 203 9006/ 044 203 9007 as jy iets verdag opmerk.
Belangrike wenke om misdaad by besighede te voorkom
Burglar Breaking Into House