DIE ontplooiing van lede van die landelike blitspatrollie die naweek langs hoofweë in die Tuinroete-distrik het resultate gelewer met twee voertuie wat teruggevind is, terwyl beslag gelê is op dwelms op die N9 en N12 tussen Oudtshoorn en George.
’n Golf GTI wat in Ladismith gesteel is, is Saterdag (1 Oktober) op ’n perseel in Eersterivier (Kaapstad) gevind. Die eienaar (34) van die perseel kon nie rekenskap gee van sy besit van die voertuig nie en is op aanklag van die besit van gesteelde eiendom in hegtenis geneem.
’n Nissan NP200, wat in die Oos-Kaap gesteel is, is in White Location in Knysna opgespoor nadat inligting ontvang is.
Tydens voertuigkontrolepunte Vrydag langs die N9 en N12 tussen Oudtshoorn en George, het die blitspatrollie twee voertuie afgetrek en 85 mandrax-tablette in die besit van twee insittendes (41 en 52 jaar oud) gevind. Die verdagtes is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van dwelms.