DIE uitwerking van die Covid-19-pandemie op Oudtshoorn se sakebedrywighede raak al meer en meer sigbaar met besighede wat hul deure sluit en talle persele op die dorp wat leeg staan.
Veral besighede in die toerismebedryf wat internasionale toeriste bedien, kou klippe.
Een van die slagoffers van die pandemie is die Turnberry Boutique Hotel wat volgende Vrydag (29 Januarie) op ’n veiling te koop aangebied word. Volgens Niel Els, mede-eienaar van dié vierster-hotel, het internasionale besoekers 95% van die hotel se gaste uitgemaak.
Die pandemie met sy verbod op internasionale toerisme verlede jaar het die besoekers laat opdroog en die hotel gedwing om sy deure reeds einde Maart 2020 te sluit.
Els sê hy hoop voornemende kopers sien die potensiaal van die gebou raak. Dit is uitstekend geleë en het potensiaal om ook as byvoorbeeld ’n kantoorgebou, welstandsentrum (wellness centre), rehabilitasiesentrum of mediese sentrum ingerig te word.
Nog ’n hotel op die dorp wat swaarkry, is die Oudtshoorn Inn. Volgens die bestuurder, Corné Kleyn, was internasionale toeriste ook dié hotel se grootste inkomstebron. “Ons het nog gehoop om ’n goeie Desember te hê wat kon vergoed vir die verbod op toeriste uit die buiteland vroeër verlede jaar, maar toe word die Tuinroetedistrik in Desember tot brandpunt verklaar wat tot baie kansellasies gelei het.”
Die humanitêre organisasie Gift of the Givers het onlangs vyftig kospakkies aan werknemers van die hotel kom oorhandig omdat hulle nie tans kan werk en ’n inkomste verdien nie.
Personeel krimp van 66 tot 9
Nie net verblyfplekke kry swaar nie, maar ook van die eetplekke.
Pierre Malherbe, eienaar van Jemima’s Restaurant, sê die 140 mense wat hulle daagliks bedien het, het nou na 10 mense per dag gedaal. Volgens hom was buitelandse besoekers ’n baie groot deel van hul kliëntebasis.
“Ons probeer sedert verlede jaar oral bespaar sodat ons kan voortgaan. Ons het ons spyskaart gesny en pryse sover moontlik aangepas. Ons het die fonteine by die restaurant toegedraai en skakel bedags die ligte af om elektrisiteit te spaar. Maar saam met die pandemie is die uitdaging van die aandklokreël en die lang rukke van beurtkrag absoluut verwoestend vir ons bedryf.”
Volgens hom is die grootste tragedie egter dat hy sy 66 personeellede na nege moes verminder. “Daardie 66 personeellede het 475 afhanklikes. Die afgelope jaar was regtig die slegste en moeilikste in die afgelope 18 jaar wat ons die restaurant het. Dit rus baie swaar op ’n mens se gemoed.”
Malherbe sê hy het gedink hy is voorbereid vir onvoorsiene omstandighede omdat hy versekering vir besigheidsonderbreking uitgeneem het en oor ’n tydperk van 18 jaar sy premies betaal het. Dié uitbetalings aan besighede is egter deur die versekeringsmaatskap-py teengestaan.
Impak duidelik sigbaar
Die voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, Jaco Vorster, sê hoewel besighede op die dorp onder groot druk is, is die realiteit dat daar geen manier is wat enigeen van ons die pandemie kan omseil nie.
“Ons almal ken mense wat siek word en herstel, ons ken ook mense wat sterf en ons ken diegene wat geliefdes verloor.
“Ons sien en ervaar die impak op ons kinders, op ons vryheid van beweging en ook op ons besighede – ons sien die impak op mense wat hul werk verloor en daarmee saam ook hulle moed. Ons sien deure van besighede wat sluit en eiendomme op die dorp wat leeg staan.
“Ons kan van die kantlyn af borduur oor hoe dinge anders bestuur kan word, maar ons het geen ander keuse as om daardeur te gaan nie.
“Die pandemie vrywaar ons ook nie van ons verantwoordelikheid teenoor die lewe nie en om aan te gaan en te bly planne maak nie.”
Vorster sê ons moet ook bewus wees van positiewe dinge wat besig is om te gebeur.
“Ons leer almal vinnig om met minder klaar te kom. Ons leer om elke dag sin in die lewe te soek en hoop te skep, al is dit net vir jouself.
“Hierdie is ook ’n groot toets vir ons gemeenskap. Dis nou die tyd om figuurlik mekaar se hande te vat.” (Deur Liesel le Roux)
Covid-19 saai verwoesting
Die Turnberry Boutique Hotel is een van die slagoffers van Covid-19 op Oudtshoorn met die gebou wat volgende Vrydag opgeveil word.
God bly getrou.ons bid en vra dat hy ons sal deurdra Amen