Burgemeester doen beroep om hulp met tennisbaan

Die Wesbank Tennisklub in Buitekantstraat op Oudtshoorn. Foto: Lindi Brill

DIE kantoor van die burgemeester van die Groter Oudtshoorn munisipale raad, Chris Macpherson, doen ’n beroep op inwoners en sakelui van Oudthoorn om ’n hand uit te reik na die Wesbank Tennisklub vir die opgradering van die klub se agt tennisbane.

Die tennisbane is volgens Macpherson in 2003 deur die munisipaliteit aan die Wesbank Tennisklub oorgedra en die munisipaliteit mag dus nie fondse bewillig vir die opgradering nie.

Die koste van die kontrak om die oppervlaktes van die agt tennisbane te herseel beloop meer as R300 000.

Die Wesbank Tennisklub kon luidens die verklaring met projekte en deur donasies uit die gemeenskap daarin slaag om meer as R250 000 in te samel, maar kort dringend ’n verdere R48 000. Volgens Louis Uys, voorsitter van die klub, benodig hulle glad nie fondse vir die maand tot maand bestuur van die klub nie, bloot vir die opgradering.

“Dit sal bitter jammer wees as Oudtshoorn die enigste tennisklub op die dorp met sy bane sou verloor. Hier word jaarliks talle toernooie aangebied, van ons jong opkomende sportmanne en -vroue word hier opgelei en die tennisbane is deel van die sportfasiliteite wat mense na Oudtshoorn lok. Ek doen ’n beroep op ons gemeenskap om die Wesbank Tennisklub tegemoet te kom en met finansiële bydrae te help dat tennis in Oudtshoorn nie verlore gaan nie,” sê Macpherson.

Kontak Uys op selfoonnommer 082 835 8555 vir verdere navrae óf om ’n bydrae te lewer.