Op die voorblad van Die Hoorn van 6 Oktober lees ons van die lewensbedreigende ervaring van Burnett Beets nadat ’n pofadder hom gebyt het. Met hul aankoms by Mediclinic Klein Karoo moet hulle tot hul ontsteltenis verneem dat daar nie teengif beskikbaar is nie en het sy vrou met hom na George gejaag vir dringende mediese sorg.
In Die Hoorn van 20 Oktober is daar ’n berig dat die Mediclinic Klein Karoo wel teengif aanhou en ook ’n ooreenkoms met die provinsiale hospitaal het dat teengif uitgeruil kan word in geval van ’n tekort.
My vraag is nou: Wat is die werklike feite? Was daar of was daar nie teengif beskikbaar nie? Die redelike persoon sou tog verwag dat daar by so ’n gerekende organisasie aan die begin van die somer (slangseisoen) voldoende voorsorg behoort getref te word vir genoeg voorraad.
Wat sou die gevolge gewees het indien Burnett op pad na George sou sterf? Is daar aan die pasiënt genoem dat hul (KKM) teengif kan bekom “net oor die draad” by die provinsiale hospitaal?
Dis tog algemene kennis, ons het dit reeds op laerskool geleer, dat ’n pasiënt wat deur ’n slang gebyt is, rustig gehou moet word en so gou doenlik mediese sorg moet kry en nie aan ’n spanningsvolle rit van 30 minute plus blootgestel behoort te word nie.
Ek dink iemand behoort meer lig op hierdie aangeleentheid te werp en met die volle waarheid na vore kom.
Oudtshoorn se inwoners verdien ’n feitelike verduideliking.
– Pieter, Oudtshoorn
Stegman reageer:
Die lokum dokter op roep, was nie bewus dat Mediclinic Klein Karoo wel teengif het nie en was ook nie bewus van die ooreenkoms met Oudtshoorn Provinsiale Hospitaal om addisionele teengif te bekom nie. Hier was wel teengif beskikbaar en die hele mediese span is weer ingelig oor die bestaande ooreenkoms met Oudtshoorn Provinsiale Hospitaal om addisionele voorraad te bekom, indien nodig.
Die dokter het voorgestel dat Mnr Beets per ambulans vervoer moet word, maar Mev Beets wou hom self neem om hom so spoedig moontlik in George te kry. Vir pasient veiligheid, is dit altyd beter om ‘n pasient per ambulans te vervoer want dan is die nodige mediese hulp beskikbaar indien die pasient se kondisie sou verswak.
Ons kan bevestig dat Mnr Beets wel die teengif ontvang het by Mediclinic George and het volkome herstel.
– Hannes Stegman, algemene
bestuurder van die Mediclinic
Klein Karoo