Beurtkrag-oplossings: Hou toestelle só aan die gang

’n Paar voorstelle van die toestelle waarna jy kan kyk om jou kragloosheid in die Klein Karoo te bekamp is van links ’n UPS, ’n “power pack”, ’n “mini UPS” en ’n “inverter”-trollie.

MET beurtkrag wat volgens kenners met ons gaan wees vir ten minste die volgende 18 maande, begin al hoe meer mense kyk na alternatiewe om van hul toestelle by die huis aangeskakel te hou gedurende hierdie kraglose deel van die dag. Om heeltemal weg te breek van Eskom is duur en almal kan dit nie bekostig nie.

Daar is tog ’n paar goedkoper opsies beskikbaar, maar eers moet ons tegnies raak. Daar is soveel toestelle beskikbaar op die mark en baie mense verwar hulle met al die verskillende benamings ens.

UPS
Die eerste toestel is ’n UPS, wat staan vir uninterruptible power supply. ’n UPS word meestal aan rekenaars gekoppel en hou jou rekenaar aan vir ’n sekere tyd om jou genoeg tyd te gee om jou alternatiewe kragbron soos ’n kragopwekker aan te skakel.

’n UPS bestaan uit batterye, ’n batterylaaier en ander elektriese komponente om “skoon” elektrisiteit te lewer. ’n UPS word geklassifiseer volgens dié toestel se grootte.

Tipiese UPS-toestelle is beskikbaar in onder meer óf 600VA (volt-ampere), 800VA óf 1200VA-groottes. Hoe hoër die VA, hoe langer of hoe meer toerusting kan die UPS hanteer. Die groter VA beteken ook ’n hoër prys.

“Inverter”

’n Sogenaamde inverter is ’n toestel wat gelykstroom (direct current – DC) omskakel na wisselstroom (alternate current – AC). In gewone taal: dit neem DC in, en maak dit AC.

Gelykstroom kom gewoonlik van ’n battery, sonpaneel of windlaaier af. Alle elektriese huishoudelike toerusting gebruik wisselstroom. Die inverters kom in verskillende groottes en word gewoonlik in Watt (W) uitgedruk. Dus, hoe groter die W-waarde, hoe groter lading kan die inverter hanteer, mits die batterye die lading kan hanteer.

Batterylaaiers
Nadat jy jou UPS en inverter gebruik het tydens beurtkrag, moet jy die battery(e) weer herlaai. Pasop vir die goedkoop tipes!

Kry ’n batterylaaier wat nie die battery gaan oorlaai nie en ook jou battery in goeie toestand gaan hou. Vir litium- en gelbatterye moet jy ’n spesiale laaier aanskaf.

“Inverter”-trollies
Hierdie toestel is ’n kombinasie van ’n battery, inverter en batterylaaier – alles in een. Wat hierdie produk so lekker maak is die feit dat jy jou toestelle permanent op die inverter kan koppel, wat dan die gevolg het dat wanneer die krag afgaan, bly jou toestelle aan. Dié produk word net soos inverters in W geklassifiseer.

“Power packs”
Hierdie is ’n uiterse mobiele laaistasie. Dit is ideaal vir die kampeerders wat wil gaan kamp waar daar geen elektrisiteit is nie en jy jou selfoon, kamera en dies meer wil laai.

Mini-UPS
Dié kleiner weergawe van ’n UPS is ontwerp om jou router/internet-toerusting aan die lewe te hou, en jy kan nog jou selfoon ook daarmee laai!

Indien jy so iets wil aanskaf, koop die een met die hoogste “mAh”-syfer wat jy kan bekostig, omdat dit jou oor ’n langer tydperk sal voorsien van batterykrag.

Batterye is die bron vir alle UPS’e en inverters. Jou keuse van ’n battery gaan bepaal hoe lank jy gaan krag hê. Daar is verskillende soorte batterye op die mark.

• Lead Acid – Hierdie batterye word in motors en die kleiner UPS’e gevind. Jy kan hierdie battery aan jou inverter koppel, maar jy kan nie meer as 50% van die battery se drakrag gebruik nie, anders gaan jy jou battery se leeftyd verkort. Herlaaisiklusse is ongeveer 500 keer.

Hierdie produk stel sekere gasse vry terwyl dit gelaai word, en moet dus goeie lugvloei hê indien dit nie ’n geseëlde battery-omhulsel is nie.

• Gel – ’n Geseëlde battery wat geen instandhouding nodig het nie. Hierdie battery kan tot 70% ontlaai word. Herlaaisiklusse is +/- 2 000 keer.

• Litium – Hierdie battery is op hierdie stadium die koning van batterye wat herlaaisiklusse en ontlading betref. Jy kan sekere litium-batterye tot 0% ontlaai sonder om enige skade aan jou battery aan te rig. Herlaaisiklusse is 5 000 keer.

Litium-batterye is wel duur, maar wat “performance” betref het die ander batterye geen aanspraak op dié titel nie.

Nie almal van ons kan litium-batterye bekostig nie. Vir diegene met die kleiner begrotings vir batterye moet jy die beste koop wat jou sak pas. Die tweede prys is ’n gel “deep cycle”-battery.

As jy met die goedkoper lead acid begin, moet jy weet dat jy oor twee jaar ’n nuwe battery moet aanskaf en moontlik kan jy teen daardie tyd ’n beter battery aanskaf. (Deur Heinrich Bosman)