Deur Garnett Wicomb
BORGTOG is in die landdroshof op Oudtshoorn geweier vir ’n man van Rose Valley, Oudtshoorn wat van verkragting van sy niggie aangekla word.
Die 42-jarige man met nege vorige veroordelings – onder andere vir moord en roof – het aangedui dat hy onskuldig sal pleit op die klagte dat hy die 32-jarige vrou verkrag het.
Die ondersoekbeampte, ao Anton Kock, het getuig dat die beskuldigde aangebied het om die vrou na haar huis vergesel. Onderweg het hy haar egter van agter gegryp, met ’n mes gedreig en op die grond neergegooi.
Kock het borgtog teengestaan omdat die vrou bang is vir die beskuldigde. Sy rekord is kommerwekkend en die vrees bestaan dat hy weer by misdaad betrokke kan raak. Die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, het ook borgtog teengestaan.
Die man se regsverteenwoordiger, Eugene Roos, het die hof vir borg gevra omdat hy nie ’n vlugrisiko is nie.
Landdros Roelf Konstabel het in sy uitspraak gesê dit blyk dat die beskuldigde ’n geneigdheid toon om geweldsmisdade te pleeg. Hy was op parool toe hy die misdaad waarvoor hy tans in die hof is, gepleeg het. Konstabel het borgtog geweier en die saak vir verdere ondersoek uitgestel.