Die skrywer Wilmarí Jooste van Ladismith met haar spesiale toekenning. Foto verskaf
’N INWONER van Ladismith en gewilde skrywer van liefdesromans, Wilmarí Jooste, is pas deur haar uitgewer met ’n spesiale toekenning bekroon nadat meer as drie nuwe boeke van haar in 2018 gepubliseer is.
Wilmarí, wat onder vriende en familie bekend staan as Ina, woon saam met haar man, Frans, en hulle drie seuns in Ladismith, waar sy dansklasse gee. Sy bied ook in Riversdal dansklasse aan.
Wilmarí het in 1997 begin skryf en van haar boeke is onder meer deur Lapa Uitgewers (agt titels tussen 1997 en 2006), Perskor (een titel in 2004) en Tafelberg (11 titels tussen 1999 en 2017) gepubliseer.
In 1999 en 2001 was drie van haar boeke op Lapa se kortlys van hul beste romans.
Na 20 jaar en 20 titels op die rak, het Wilmarí in 2018 egter besluit om na Malherbe Uitgewers te skuif wat deesdae haar boeke publiseer.
In 2018 het vier van haar boeke by Malherbe Uitgewers verskyn en het sy ’n spesiale toekenning van hulle ontvang vir drie of meer boeke gepubliseer in die jaar. Daar is tans nog drie goedgekeurde manuskripte by hulle vir publikasie vanjaar.
Wilmarí vertel dat wanneer sy nie nie klas gee of voor die rekenaar is nie, is sy lief om in te kleur en kaartjies te maak, of saam met haar man die wêreld te verken. Sy het Frans in Reitz leer ken nadat sy na matriek haar grootworddorp, Zeerust, verlaat het en Vrystaat toe getrek het waar sy as dansinstrukteur verskeie dansstudio’s op die been gebring het.