So lyk sandsteen wat deur vog verweer is. Die foto is aan die agterkant van die CP Nel Museum op Oudtshoorn geneem.

’n Skets wat aandui hoe ’n ondergrondse dreineringsloot gegrawe word. Bron: SAHRA

Een van Oudtshoorn se pragtige sandsteengeboue, die CP Nel Museum, staan soos vele ander sandsteengeboue op Oudtshoorn op ’n ondergrondse watertafel wat oor die jare groot skade aan die sandsteen veroorsaak het. ’n Ondergrondse dreineringsloot wat ’n aantal jare gelede daar gegrawe is – soos die een wat in die meegaande berig beskryf word – het egter ’n einde gebring aan verdere skade.
Deur Hilda Boshoff
’N SANDSTEENHUIS is gesog, dit het karakter, is eie aan Oudtshoorn en is wonderlik aangepas vir die warm somers, maar sandsteen vra dat sy eienaar hom ten alle koste teen vog moet beskerm – vog wat van onder opstyg en reënwater wat van bo in die sandsteen indring.
Oudtshoorn se grondwater het ’n hoë persentasie opgeloste mineraalsout (natrium en chloor) en die soute stoot saam met die grondwater in die sandsteen op, die water naby die buitelae van die klip verdamp, die soute bly agter en dit kristalliseer.
Hierdie kristalkorrels vermeerder en met verloop van tyd val die sandkorrels en die kristalkorrels buitentoe en lê al langs die sandsteenmuur – ’n wit skimmel, soos’n uitslag, wat die eienaar waarsku dat alles nie wel is nie.
Reënwater kan ook in die voeë tussen die sandsteenblokke insypel en dan kan presies dieselfde gebeur: verbrokkeling van die sandsteen.
Die eienaar moet vasstel waar kom die vog vandaan:
• Staan die huis op ’n ondergrondse watertafel, wat byvoorbeeld die geval is met die CP Nel Museum op Oudtshoorn?
• Is daar swak dreinering weens kleigrond wat die vog terughou?
• Loop reënwater weens ’n helling of plaveisel al langs die muur in die sandsteen?
• Word plante al langs die sandsteenmuur natgelei en saam daarmee die sandsteen?
• Is die huisfondament deur die bouers destyds nie deeglik met waterwerende materiaal beskerm nie?
’n Beproefde oplossing vir ondergrondse water is die aanlê van ’n ondergrondse dreineringssloot meer as 45 grade vertikaal gemeet vanaf die voet van die gebou (Sien die skets van SAHRA – South African Heritage Resources Agency onder).
Die afstand van die muur word nie voorgeskryf nie.
Die sloot word halfpad uitgelê met growwe gruis, waardeur water kan dreineer.
Bo-op word ’n geperforeerde pyp van SABS-standaard (pitch fibre perforated pipe) gelê, wat die water teen ’n geskikte gradient sal opvang en weglei van die muur af na ’n sloot.
Die boonste gedeelte van die sloot word met fyner gruis opgevul.
Die watertafel moet afgedwing word na die helfte van die afstand waarteen die vog in die muur gestyg het.
Die diepte van die sloot mag nie meer as tussen 50 cm tot 75 cm en die wydte tussen 30 cm tot 40 cm wees nie.
Dit is belangrik dat die hele sloot stuk-stuk in lengtes van 1,5 meter aangepak word.
Die vog moet afsak, sodat die muur kan uitdroog.
Goeie ventilasie sal die uitdroging aanhelp.
Wat tot elke prys vermy moet word, is om die mure van ’n sandsteengebou te verf of te pleister of met ’n waterwerende produk te bedek, want as gevolg daarvan kan verdamping nie plaasvind nie en word verbrokkeling eenvoudig voortgesit en kan uitdroging lank duur.
Die NG Moederkerk in Oudtshoorn wat met ondergrondse water sukkel, se mure is dekades gelede met ’n produk bedek wat die sandsteen verhinder om asem te haal.
Dié proses kan nie omgekeer word nie en die pleisterwerk binne die kerk begin nou los raak.
• Inligting vir dié berig: SAHRA.