Blitspatrollie onderskep dwelms van R290 000

Bo: Die kartonhouers waarin die dwelms verpak was. Onder: Bondels khat wat in die kartonne verpak was. Foto’s verskaf

Lede van die SAPD se blitspatrollie het Dinsdag 17 Junie, ʼn 47-jarige verdagte gearresteer vir dwelmhandel nadat khat, ter waarde van R290 000 gevind is.

Die man is gearresteer nadat die blitspatrollie-lede ʼn bus by ʼn beheerpunt tussen Prins Albert en Prins Albertweg voorgekeer en deursoek het. Dertien kartonne met ʼn inhoud van 2 940 bondels khat is in die bus se bagasieruim ontdek. Die kartonhouers is met ’n 47-jarige passasier op die bus verbind en hy is in hegtenis geneem op ʼn klag van dwelmhandel.

Die verdagte bly in aanhouding tot sy hofverskyning.

Volgens sers. Chris Spies van die polisie se provinsiale mediasentrum was die beheerpunt deel van die SAPD se voortgesette strategiese ontplooiing van blitspatrollie-lede op nasionale en sekondêre roetes om die invloei van dwelms, vuurwapens en onwettige goedere uit te wis.