DIE ANC is Dinsdag tydens ’n nuuskonferensie op Oudtshoorn van inmenging beskuldig deur die vier partye wat die Groter Oudtshoorn in koalisie beheer, die DA, VF Plus, Icosa en Suid-Kaap Saamstaan.
Dit volg ná gerugte die afgelope week dat Oudtshoorn se onderburgemeester, Mlandeli Nyuka, die koalisie gaan verlaat en hom by ’n ANC-koalisie gaan aansluit.
Nyuka het by die nuuskonferensie gerugte dat hy by ’n ANC-koalisie gaan aansluit, ontken, maar wel beweer dat hy vroeër vandeesmaand deur Nicky Valentyn, burgemeester van Kannaland, en Ian Avontuur, munisipale bestuurder van Kannaland, genader is om eerder saam met die ANC te werk.
Volgens Nyuka is daar aan hom gesê daar is reeds gesprek met die bestuur van Saamstaan daaroor gevoer en is hy ook geld aangebied as hy sou oorloop.
Hy het voorts gesê ’n voormalige parlementslid van die Wes-Kaapse regering het hom ook gekontak en aangemoedig om van koalisie te verander.
Valentyn en Avontuur het by navraag van Die Hoorn die bewerings van Nyuka ten sterkste ontken.
“Ek stel nie eens belang in Oudtshoorn se politiek nie, want ek is in Kannaland. Hoekom sal ek dan nog geld wil aanbied? Ek kry mos nie voordeel uit dit uit nie. Het hy wat Nyuka is dit gesê, want dan vat ek hom hof toe, want my naam is kosbaar.”
Avontuur sê daar is geen waarheid aan die kwaadwillige beweringe nie. “Ek het nog nooit enige vergadering met die raadslid van Saamstaan gehad nie. Dis natuurlik onwettig om geld aan te bied in sulke omstandighede. Ek sal myself nie skuldig maak aan sulke blatante onwettige optrede nie.”
Die Groter Oudtshoorn se burgemees-ter, Chris Macpherson, het die ANC by die nuuskonferensie van inmenging op Oudtshoorn beskuldig, en gesê hy gaan die Wes-Kaapse minister en parlement vra om inmenging en omkopery van buite die Oudtshoorn Munisipaliteit te ondersoek.
Hy het gesê hy is bekommerd oor die aanbieding van geld en dat daar daarom besluit is om die inligting bekend te maak.
Volgens Macpherson is daar goeie bande tussen die politieke partye in die Groter Oudtshoorn en is hy daarvan seker dat die plaaslike ANC-raadslede nie van die bewerings bewus is nie.
Nyuka het bevestig dat geen plaaslike ANC-lede by gesprekke met hom betrokke was nie. (Deur Liesel le Roux)
Beherende koalisie beskuldig ANC van onwettige inmenging
Raadslede van die huidige beherende koalisie op Oudtshoorn Dinsdagoggend tydens 'n perskonferensie op die dorp. Van links is Mlandeli Nyuka (Suid-Kaap Saamstaan, onderburgemeester), Vlancio Donson (Icosa, burgemeesters-komiteelid), Johan Allers (VF Plus, speaker) en Chris Macpherson (DA, burgemeester). Foto: Liesel le Roux