DIE verhoor van Sidney Berry, die bestuurder van die motor waarin die 18-jarige matriekleerder van Oudtshoorn, Marilize Nortier, die aand van 22 September 2019 gesterf het, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn streekhof voortgesit met die getuienis van twee vriende wat die betrokke aand saam met hom by die Braai Kraal-kuierplek was.
Steven Knoop van Stellenbosch het getuig hy en die twee Lilley-broers, Lucas en Aaron, het die aand saam met Berry na die kuierplek gegaan waar hulle Marilize en haar vriendin, ene Moné, ontmoet en al-mal saam drankies geniet het.
Volgens hom het hy sowel as Berry met hul aankoms by die kuierplek elk ’n dubbelbrandewyn en Coke ge-drink. Hy het die aand te veel alkohol ingeneem om ’n motor te kon bestuur en Berry het ook te veel gedrink om te bestuur, Knoop getuig. Berry was egter nie onvas op sy voete toe hulle die kuierplek verlaat het nie en het ook nie onverskillig bestuur nie.
Hy het egter in kruisverhoor deur Berry se regsverteenwoordiger, Bulelani Bans, toegegee dit was ’n aanname dat Berry net soveel alkohol soos hy ingeneem het en saamge-stem dat Berry waarskynlik minder as hy gedrink het omdat hy van tyd tot tyd gedurende die aand saam met Marilize weg van die groep was en hy nie toe vir hom drankies bestel het nie. Hy self het so vier of vyf rondtes bestel, maar nie vir Berry gekoop wanneer hy nog met ’n glas in sy hand gestaan het nie.
Hy het ook getuig dat dit nie ’n georganiseerde partytjie was nie, maar het hy bloot ’n aand uit geniet nadat hy die middag vanaf Kaapstad op Oudtshoorn aangekom het.
Bans het dit ook aan Knoop gestel dat sy getuienis in die hof verskil van sy verklaring aan die Polisie.
Lucas Lilley het getuig hy het die aand grotendeels saam met ’n vriend, ene Travess, by ’n potspeltafel deur-gebring en kan nie getuig hoeveel Berry gedrink het nie.
Volgens hom het hy self nie baie gedrink nie.
Hy het in kruisverhoor getuig hy het nie fout gevind met hoe Berry na hul blyplek bestuur het nie. Volgens hom kan hy onthou dat Berry en Knoop by hul blyplek die aand in ’n woordewisseling was oor of Berry verder kon bestuur.
“Knoop wou nie gehad het Berry moet weer ry nie, maar Berry is wel later daar weg met Marilize ook in die motor,” het Lilly getuig.
Berry het nie weer teruggekom nie en hy het die volgende oggend ge-hoor hy was in ’n ongeluk.
Die saak wat vir twee dae op die hofrol was, is egter ná middagete op die eerste dag op versoek van die verdediging deur landdros Vaughn Shone vir verdere verhoor op 4 en 5 Oktober uitgestel.
Jacolize Jordaan is die aanklaer in die saak en Berry is op waarskuwing uit. (Deur Garnett Wicomb)
Getuienis oor hoeveel Berry gedrink het aand van Marilize se dood
Marilize Nortier