DIE hoofmeisie van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, Franke du Plooy, is een van die top 14-finaliste vir vanjaar se Matrikulant van die Jaar-kompetisie wat deur die Universiteit van die Vrystaat, Netwerk24 en Volksblad aangebied word.
Dié veelsydige groep wat almal preseerders is op akademiese, leierskap-, sport- en kultuurgebied, se name is verlede Woensdag, 14 September, bekendgemaak.
Die eindronde en glansgeleentheid van die kompetisie sal vroeg in Oktober in Bloemfontein plaasvind met die 14 finaliste en hul ouers wat op ’n landgoed buite Bloemfontein bederf sal word.
Tydens die finale beoordeling sal ses be-oordelaars, wat die borge verteenwoordig, onder meer onderhoude voer met die 14 finaliste.
Die skoolhoof van Langenhoven Gimnasium, Stephanus Potgieter, het Maandag aan Die Hoorn gesê die hele skoolgemeenskap is baie trots op Franke.
Franke is nie net ’n slimkop wat gereeld ’n gemiddelde persentasie van bo 95% behaal nie, maar volgens Potgieter is sy ook ’n uitstekende leier by haar skool en iemand wat oor die jare uitgeblink het op die sportveld en op kulturele gebied, onder meer as ’n baie goeie redenaar. (Deur Liesel le Roux)
Franke een van top 14-finaliste!
Franke du Plooy, hoofmeisie van Langenhoven Gimnasium, wat aangewys is as een van die 14 finaliste vir vanjaar se landwye Matrikulant van die Jaar-kompetisie.
Foto verskaf