Skrywer en aktrise van L’smith op die Kunstekaap-verhoog

Raydene le Roux. Foto: Deon Meyer

DIE naam Raydene le Roux is besig om golwe in die vermaaklikswêreld te maak.

Dié 32-jarige aktrise van Ladismith speel nie net verhoë aan die brand nie, maar het ook al op televisie verskyn en nou haar eie produksie, Onder die Brug, geskryf. Dié produksie is onlangs suksesvol vir drie dae in Augustus by Kunstekaap in Kaapstad opgevoer.

Onder die Brug is deur Le Roux geskryf en fokus op die probleem van haweloses in stede en spesifiek Kaapstad.

Die produksie ondersoek die redes vir die lot van haweloses.

Volgens Le Roux lê die omstandighede van haweloses haar na aan die hart.

“Ek is tans besig om my in maatskaplike studie te bekwaam en my eie nie-winsgewende organisasie het ten doel om dieper na die probleem van jongmense en kinders op straat te kyk en programme van stapel te stuur om hul lot te verander.

“Alhoewel ek tans nog studeer, leef ek my droom en is ek deeglik bewus van wat my einddoel is.”

In Onder die brug vertel ’n jong man hoe hy op straat beland het; dat hy ook drome soos enige ander kind gehad het, maar dat dinge skeefgeloop het. In die stuk skraap ’n jong vróu ook, gespeel deur Le Roux, haar moed bymekaar en verlaat ’n verhouding waarin sy fisiek en emosioneel afgetakel is.

Le Roux sê haar leuse is dat indien jy nie waag nie, jy geen kans het om ooit te wen nie. Dit is juis wat haar dryf tot sukses. (Deur Deon Meyer)