VERLOF om teen sy vonnis van tien jaar te appelleer is verlede Donderdag in die Oudtshoorn streekhof geweier aan ’n man wat aan poging tot moord skuldig bevind is.
Warren Jaftha het onskuldig gepleit op die klagte van poging tot moord maar wel op ’n alternatiewe klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Hy het ontken dat hy vir Marlin Matolla met ’n panga gekap het, maar wel met ’n klip gegooi en hom per ongeluk teen sy kop getref het. Sy weergawe is egter deur die hof verwerp.
Matolla het getuig dat hy na Jaftha se woning gegaan en hom gevra het waar sy vriendin is wat vroeër aan hom gesê het dat haar kind baie honger is.
Jaftha het hom glo as ’n “Moffie” uitgeskel waarna hy weggestap het. Jaftha het hom agtervolg en met die panga teen sy voorkop gekap. Hy het sy bewussyn verloor en moes later ’n noodoperasie in die Groote Schuur hospitaal ondergaan.
Hy het ontken dat Jaftha hom met ’n klip raakgegooi het en dat hy sy lewe kon verloor het.
Jaftha se regsverteenwoordiger, Eugene Roos, het met die kruisondervraging van Matolla gesê dat die merk aan sy voorkop meer na ’n hou met ’n klip lyk.
Die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat Jaftha aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind is en geen berou toon nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het Jaftha se weergawe dat hy die klaer met ’n klip gegooi het as vals verwerp en met vonnisoplegging gesê dat mense wat ernstige misdade pleeg swaar gestraf moet word.
“Dit is baie traumaties en die klaer moet met daardie letsel voortleef. Sy hele lewe is daardeur geaffekteer,” het die landdros gesê.
Die hof het Jaftha se aansoek om teen sy vonnis te appelleer van die hand gewys omdat die vonnis van tien jaar nie skokkend onvanpas is nie en ’n ander hof nie tot ’n ander bevinding en ’n ligter vonnis sal kom nie. (Deur Garnett Wicomb)