OKSK-dosent sterf op 67

Mathilda (Matty) Cairncross. Foto verskaf

Die saggeaarde en nederige Mathilda (Matty) Cairncross, oud-dosent van die destydse Onderwyskollege Suid-Kaapland (OKSK) op Oudtshoorn, is op 16 Maart na ’n kort siekbed op 67-jarige ouderdom oorlede.

Cairncross was vir 18 jaar ’n dosent in Geskiedenis, totdat die kollege in 1996 gesluit is. Sy was deel van ’n formidabele span dosente wie onderwysers vir die land opgelei het.

Daar is Saterdag tydens huldeblyke aan Cairncross by haar begrafnisdiens in die Weyers Memorial United Congregational Kerk as ’n beskeie stil persoon beskryf.

Volgens haar wyksdiaken, Nettie Antonie, was sy nie iemand wat op die voorgrond wou wees nie maar lief was vir haar kerk en getrou haar bydrae gelewer het.

In ’n brief van haar suster en broer, Bernie en Siegfried, wat tydens die diens deur ’n buurman en familievriend, Pat Wagenaar, voorgelees is, beskryf hulle haar as ’n suster met ’n wondergawe van lewe en goeie gesondheid.

“Ons wil net vir jou dankie sê vir al die mooi, soete herinneringe en goddelike seëninge wat jy vir ons nagelaat het. Met liefde, helderheid en ’n glimlag het jy ons dae vervul met krag en sterkte by die huis. Wat jy kon doen het jy gedoen, en die Here gedien. Jy het aan ons die mooiste plesier verskaf met jou liefdevolle oë van ’n kind met min woorde. Ons sal jou nalatenskap vir altyd onthou.”

“Jy het deur die goedheid van die Here triomfantlike oorwinnings in stille nederigheid behaal.”

Die Vollies, oud-studente van die kollege, het as huldeblyk ’n geraamde gedig, Engel Tydloos, geskryf deur ’n oud-student, Chris Louw, asook ’n ruiker aan Cairncross se suster oorhandig.
Cairncross was na die sluiting van OKSK in 1996 ook deel van ’n uitgelese groepie mense wat die privaatskool Principia op Oudtshoorn begin het, en het vir tien jaar as sekretaresse van die skool gedien.

Sy laat haar suster, Bernie, en broer, Siegfried, agter, en is tydens ’n privaat geleentheid veras. (Deur Garnett Wicomb)