Agtien maande vir steel uit voertuig

’N MAN van Dysselsdorp is skuldig bevind aan diefstal vanuit ’n voertuig.

Hy het skuld erken, en is in die Oudtshoorn distrikshof tot agtien maande gevangenisstraf gevonnis.

Wilfred Harmse het negentien vorige veroordelings, en dien tans ’n vonnis van twee jaar uit vir verbreking van paroolvoorwaardes.

In sy pleitverduideliking erken hy dat hy die aand van 15 Desember 2022 besluit het om in Mervin Andries se motor in te breek.

Volgens hom was die voertuig se deur oop en het hy die battery, ’n pomp en ’n flits ter waarde van R1 540 gesteel.

Hy wou die goedere verkoop omdat hy die geld nodig gehad het. Hy is deur die polisie in hegtenis geneem.

Harmse erken dat hy geweet het wat hy doen is verkeerd.

Die staatsaanklaer, Cameron Rhodes het die hof vir ’n lang tydperk agter tralies gevra, aangesien vorige vonnisse nie die beskuldigde tot ander insigte gebring het nie.

Harmse se regsverteenwoordiger, Cindy Murray-Smith, het vir ’n opgeskorte of gedeeltelike opge-skorte vonnis gevra.

Landdros Vaughn Shone het tydens sy uitspraak aan Harmse gesê dat hy nie sy vorige veroordelings teen hom sal hou nie, en deur skuldig te pleit hy ’n mate van berou toon. ’n Opgeskorte vonnis is egter nie ’n gepaste vonnis nie, het die hof bevind.

Harmse is reeds onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit en is tot agtien maande gevangenisstraf gevonnis. (Deur Garnett Wicomb)

Be the first to comment on "Agtien maande vir steel uit voertuig"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*