‘N Man van Dysselsdorp wat by ’n vrou se huis in Rose Valley op Oudtshoorn ingebreek en haar twee keer verkrag het, is Maandag 12 Desember 2022, in die Oudtshoorn streekhof agtien jaar tronkstaf opgelê.
Dominique Korkee (25) het die aand van 27 November by die 38-jarige ma van ses kinders se huis ingebreek nadat hulle vroeër die aand saam by ’n drinkplek was. Sy was alleen tuis en onder die indruk dat dit haar kêrel was wat met haar omgang het, toe sy wakker skrik en sien dat dit nie hy was nie. Sy het opgespring en na die toilet gegaan om kastig te urineer en ’n plan gedink om weg te kom. Sy is na die kombuis en wou uit maar Korkee het haar gekeer en ’n tweede keer verkrag voordat hy gevlug het.
Sy het om hulp geroep en hy is deur mense in die straat voorgekeer en goed pakgegee. Volgens haar het mense wat hom ken en weet waar hy op Dysselsdorp woon die volgende dag gesorg dat hy in hegtenis geneem word.
Korkee het onskuldig gepleit en tot die einde volgehou dat die vrou hom toestemming gegee het.
Sy getuienis is egter deur streeklanddros Daniel Boks verwerp in ag genome die verdoemende ge-tuienis voor die hof.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die hof vir langtermyn gevangenisstraf gevra maar toegegee dat die hof wel van die voorgeskrewe vonnis van lewenslange gevangenisstraf kan afwyk.
Die landdros het in sy uitspraak gesê dit is skokkend dat vroue nie in hul eie huise veilig is nie en mense soos Korkee swaar gestraf moet word. ’n Duidelike boodskap moet ook uitgaan vir voornemende verkragters.
Die landdros het saamgestem met die aanklaer sowel as Korkee se regsverteenwoordiger, Brian Carelse, dat wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om van lewenslange gevangenisstraf af te wyk. Die vrou het nie ernstige beserings opgedoen nie terwyl Korkee self ook beseer is.
Die drie klagtes is vir vonnis saamgeneem en Korkee is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)