OUDTSHOORN en die omliggende omgewing juig nadat broodnodige swaar reën Maandagaand in dele van die Klein Karoo geval het.
Die reën het egter ook talle oorstromings tot gevolg gehad. Water het deur huise geloop in Calitzdorp en talle lande buite die dorp het verspoel. Volgens kapt Ian Meyer, stasiebevelvoerder van die Calitzdorp Polisie, het ongeveer 65 mm reën in 30 minute geval.
“Niemand was voorbereid op al die reën wat in so ’n kort tyd geval het nie en al was voorbereidings getref, sou niemand daardie groot klomp water kon keer nie.”
Volgens ’n mediaverklaring van Tuinroete Rampbestuur het ’n damwal van ’n klein dam in Calitzdorp Maandag-aand gebreek en moes inwoners ontruim word en na hoërliggende gebiede geneem word. Niemand is egter beseer nie. “Wat vir my waarlik ’n riem onder die hart was, is dat die gemeenskap ingespring het en mekaar gehelp het. Een inwoner wat help skoonmaak het, se eie huis is ook oorstroom en het hy dit eers gesien toe hy daar kom,” vertel Meyer.
Boere en inwoners het die volgende hoeveelhede reën gemeet: Kleynshoogde 28 mm, Kleynspoort 11 mm, Mooiloop 24 mm en Rooiheuwel tussen 18 mm en 25 mm. Op Meiringspoort net buite De Rust is 10 mm gemeet en Rooiloop op die Willowmorepad het ook 10 mm gekry.
Boere in Volmoed het 22 mm gemeet en op ’n plaas net buite Calitzdorp het ’n boer 70 mm gemeet.
Stephan Malan se plaas Vryheid is 10 km buite Calitzdorp geleë en hy sê dat hierdie nog die meeste reën was wat hy sover gehad het hierdie jaar. “Ons is ongelooflik dankbaar vir die water, en met Dinsdagaand se reën wat bygekom het, het ek 75 mm gelees op my reënmeter Woensdagoggend.”
Oudtshoorn het self goeie reën gehad, met dele wat tussen 15 mm en 20 mm gekry het.
Volgens ’n verklaring van Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, het vyf huise in Oudtshoorn waterskade opgedoen.
Drie kinders is ook uit ’n motor gered in Paardebond, sowat 30 km vanaf Oudtshoorn, nadat hulle tussen twee riviere vasgekeer is.
Inwoners moet steeds op hulle hoede wees – die SA Weerdiens het ’n waarskuwing uitgereik vir Saterdag vir Oudtshoorn en die omliggende areas. Tussen 20 en 30 mm reën word voorspel, met rukwinde van 50 tot 80km/h. Daar is ook ’n moontlikheid van hael.
Dit gaan beslis vanjaar ’n groener Kersfees in die Klein Karoo wees! (Deur Angelique Erasmus)
Reën in oorvloed!
’n Wingerd buite Calitzdorp net nadat die reën van Maandagaand opgeklaar het. Foto verskaf