67-jarige reeds langer as maand vermis

Hester Hufke (67). Foto verskaf

DIE familie van ’n 67-jarige vrou van Neppon op Oudtshoorn wat op 7 Desember verlede jaar spoorloos verdwyn het nadat sy vir ’n kopbesering in die Oudtshoorn Hospitaal behandel is, is diep bekommerd oor waar sy haar bevind.

Volgens Martiens Esquire van Klooflaan 10, Neppon, is sy skoonsuster, Hester Hufke, die aand van 6 Desember 2022 per ambulans na die hospitaal geneem nadat sy geval en ’n sny aan haar kop opgedoen het.

Volgens hom het die dokter wat haar behandel het, haar aangesê om in die ongevalle-wagkamer te wag todat haar familie haar kom haal.

Sy kon nie ’n telefoonnommer van haar dogter of ander familie verskaf nie.

Esquire se die dokter het vir hom die ongevalle-video gespeel waarin gesien kan word hoedat sy skoonsuster die volgende oggend haar sak neem en by die hospitaal uitstap.

Niemand weet saam met wie of hoe sy by die hospitaal weg is nie, maar sy is daarna nog nie weer gesien nie.

Volgens Esquire het sy nooit by die huis op­gedaag nie, waarna hulle na haar begin soek het en by ander familie en vriende na haar verneem het.

Hy sê Hufke was ’n gesonde vrou en kan hulle nie haar verdwyning verklaar nie.

Hy het haar ’n dag later as vermis by die polisie aangemeld, maar na langer as ’n maand word sy steeds vermis.

Hy vra mense wat Hufke moontlik gesien het of weet waar sy haar bevind, om hom by 064 953 6149 of die Oudtshoorn Polisie, by 044 203 9200 of 079 8939970 te skakel. (Deur Garnett Wicomb)