Ampie oudste inwoner op 102

Bo: Meester Ampie Wicomb saam met sy ses kinders, Priscilla, Diana, Robert, Catherine, Marie en Jenny. Onder: Ampie Wicomb se geskrewe nota. Foto: Garnett Wicomb

“OP my honderd-en-twee jaar bly ek steeds God se kind met ’n hart soos ’n oseaan vol liefde.”

So skryf Adam Frederick Wicomb, oudste van die Wicomb-familie en een van Oudtshoorn se bekendste inwoners, wat op Dinsdag 20 Desember 2022 sy 102de verjaardag by ’n gastehuis op Matjiesrivier, die plaas waar hy gebore en grootgeword het, saam met familie en vriende gevier het.

Die merkwaardige oud-skoolhoof wat steeds helder van verstand is en nog gereeld sy wyshede neerpen geniet nog redelik goeie gesondheid.

“Ons kyk te veel na die slegte dinge van die wêreld, terwyl daar so baie skatte tussen ons is om te waardeer. Ons moenie mense vereer na hul dood nie, maar terwyl hulle nog saam met ons is,” het die merkwaardige Wicomb op sy verjaardag gesê.

Meester Ampie, soos hy alombekend is, se 100ste verjaardag kon as gevolg van Covid-19 nie in 2020 gevier word nie en so ook nie sy 101ste verjaardag nie, en daarom was die viering van sy 102de verjaardag baie spesiaal vir hom, sy familie en vriende.

Hy was tien jaar oud toe sy pa oorlede is en sy ma vir hom, sy twee broers en twee susters, onder moeilike omstandighede alleen moes grootmaak.

“Ek moes na standerd ses uit die skool en vir twee jaar op die plaas werk om die huis se inkomste aan te vul, en het dikwels sommer op die wa van die plaaseienaar geslaap.

Hy was in 1940 een van die eerste leerlinge van die Hoërskool Môrester op Oudtshoorn en die volgende jaar die eerste een wat die junior sertifikaat met ’n eersteklas geslaag het.

In dieselfde jaar het die hoof van Môrester vir hom ’n werkie by die Methodistekerk gekry om sakgeld te verdien.

“My taak was om Sondae die orrel met die hand te pomp anders is daar geen klank nie. Daarvoor het ek 12 sjielings en ’n sikspens per maand verdien.”

Hy het hom in 1943 as onderwyser aan die destydse Athlone Onderwys Instituut in die Paarl bekwaam en die volgende jaar op Ladismith begin skoolhou waar hy sy vrou, Maggy, ontmoet het.

Hy het in 1981, na 24 jaar as hoof van die Vlakteplaas UCC Primêre Skool die tuig na 38 jaar in die onderwys, neergelê.

Meester Ampie het vir baie jare op kerkrade van die Congregational Kerk gedien. Eers op Dysselsdorp, daarna op Oudtshoorn en vanaf 1985 as diaken van die Weyers Memorial United

Congregational Kerk totdat hy in 1992 tot lewenslange erediaken vereer is.

Hy was een van die stigterlede van dié kerk.

“Pa, Pa is ons rots en trots. Vir die wêreld daarbuite is pa net ’n pa, maar vir ons is pa ons hele wêreld.

Ons is bevoorreg om die geskenk van 102 jaar wat pa van Bo ontvang het saam te kan vier.

Wees verseker van ons Liefde,” het Diana, een van sy dogters Dinsdag, tydens die geselligheid op Matjiesrivier gesê. (Deur Garnett Wicomb)