Oudtshoorn trek Aprilmaand sy feesklere vir nege dae aan wanneer die 27ste KKNK van Saterdag 1 tot Sondag 9 April aangebied word. Dié feesdatums val volledig in die skoolvakansie en eindig oor Paasnaweek.
Die feesprogram word volgende Vrydag (20 Januarie) bekendgestel, met kaartjieverkope wat daarna landwyd en aanlyn by Webtickets open. Verblyfbesprekings kan reeds aanlyn op die KKNK se webblad gedoen word.
“ ’n Propvol feesprogram wag op feesgangers,” sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK. “Dit sluit al die gewilde KKNK-elemente in asook vernuwing en verrassings!
Die gewilde opelugaandkonserte keer terug, asook plekspesifieke toneelstukke.
“Die program is daarop gemik om jonk en oud te vermaak.
“Baron van Reedestraat, die hartklop van die fees, word vanjaar weer gesluit en sal aan feesgangers gratis vermaak met impromptu optredes, musiek en heerlike kos en drinkgoed bied. Die gewilde gespreksreekse, visuele kuns en ander leefstylelemente is ook deel van die aanbod, en ook ’n opelugmusiekfees oor twee dae lank wat die fees op 1 en 2 April afskop.
“Die Feesmark bied vanjaar ’n inkopieparadys, met kuns- en kosstalletjies om van te kies en keur en ’n musiekverhoog wat vermaak verseker.”
Vanjaar word daar ook die eerste keer ’n Jeugkunstefees spesifiek gemik op hoërskool leerders en -onderwysers in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement aangebied. Dié fees binne die fees strek van 1 tot 4 April en is daarop gefokus om ’n liefde en belangstelling in die kunste by hoërskoolleerders te kweek deur ’n program van teater, musiek, dans, visuele kuns, aktuele gesprekke en meer. Van die produksies en geleenthede word deur die jeug self aangebied.
Pakkette met verblyf en kaartjies teen bekostigbare pryse word beskikbaar gestel, wat ook meesters-klasse en werksessies insluit.
• Vir meer inligting, besoek die KKNK se webblad by www.kknk.co.za of stuur ’n e-pos na info@kknk.co.za.
• Vriende van die KKNK ontvang die feesprogram voordat dit bekend gestel word en het ’n kans om hul kaartjies eerste, teen afslagpryse, te koop. Om aan te sluit, besoek die KKNK se webblad.
Maak gereed vir feesvier in die Klein Karoo!
Die gewilde opelugaandkonserte keer in 2023 terug na die KKNK op Oudtshoorn. Foto verskaf