
DIE 51ste Oudtshoorn Skaalmodelvliegskou het verlede week en die naweek (29 September tot 2 Oktober) by die op Oudtshoorn Lughawe plaasgevind.
Modelvliegtuig-geesdriftiges het van heinde en verre gekom om aan hierdie vliegskou deel te neem, wat ook een van die oudste in Suid-Afrika is.
Een deelnemer, Peet Dippenaar van Kimberley, het sowat 1 800 km gereis om die skou by te woon.
Eers vanaf Namibië na Kimberley, waar hy sy modelvliegtuie gaan oplaai het, en toe na Oudtshoorn om te kom deelneem.
“Ons is dankbaar vir elke persoon wat kom deelneem het, en ook vir die groot finansiële inspuiting wat so ’n geleentheid na die dorp bring,” sê Fanie Fourie, voorsitter van die Kango Vliegklub wat die geleentheid aanbied.
“Elke deelnemer bring sy gesin saam, wat dan ons besienswaardighede besoek, by restaurante eet en ook in gastehuise bly.”
52 vlieëniers en hul gesinne het die skou bygewoon, en sowat 122 modelvliegtuie gebring om in die pragtige Karoo-lugruim te kom vlieg en die lieflike warm klimaat te geniet. (Deur Angelique Erasmus)