CHECKERS Oudtshoorn open weer vanoggend hul deure op die dorp. Volgens die media-afdeling van die Shoprite-groep is die deure gister (Maandag 29 Junie 2020) gesluit nadat bevestiging ontvang is van “positiewe toetsing vir Covid-19”. Hierna is ’n professionele ontsmettingsfirma ingebring om die winkel te ontsmet en diep skoon te maak.
Die personeel word almal eers vanoggend by die mobiele kliniek, ’n wit voertuig op die foto sigbaar langs die winkel se deur, gesif (“screen”). Volgens die Shoprite-groep sal enigeen wat in nabye kontak was met ’n positiewe geval, 14 dae lank in self-kwarantyn, moet gaan.
Die Shoprite-groep sê voorts dat hulle nie meer spesifieke besonderhede kan verskaf oor gevalle by die winkel nie omdat hulle werknemers se privaatheid respekteer. “Sedert die koronavirus-uitbraak het die Shoprite-groep proaktief opgetree om hul werknemers en die publiek te beveilig en is ’n wye reeks voorkomende maatreëls ingestel.”
Pick n Pay op Oudtshoorn se deure is ook vandag weer oop nadat dié winkel ook gister tydelik gesluit is vir ontsmetting as gevolg van ‘n Covid-19-geval. (Deur Liesel le Roux)