15 jaar tronkstraf vir moord op broer

’N MAN van Zoar is verlede Donderdag in die Oudtshoorn Streekhof 15 jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy aan moord op sy jonger broer skuldig bevind is.

Die hof het bevind Isaac Jantjies (44) het sy 17-jarige broer, Juwayne Visagie, verskeie kere met ’n mes gesteek.

Jantjies het egter volgehou dat hy sy broer net een steekhou toegedien het.
Visagie is na verskeie operasies vier weke na die voorval oorlede.

Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die hof vir die minimum moordvonnis van 15 jaar gevra omdat geen buitengewone omstandighede bestaan om daarvan af te wyk nie.

Sy het gesê Jantjies toon ook geen berou nie.

Volgens haar was daar duidelik nie ’n goeie verhouding tussen die twee broers nie omdat die oorledene saam met sy pa gewoon het en die moord uit jaloesie gepleeg is.

“Die beskuldigde het nie ophou steek nie,” het Arnolds gesê.

Volgens dr Mariaan Winterbach wat die lykskouing gedoen het, is Juwayne ver­skeie kere gesteek.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê Jantjies het roekeloos opgetree en dat die getuienis voor die hof nie ’n afwyking van die voorgeskrewe vonnis regverdig nie.

Die oorledene kon volgens sy pa, Johannes Visagie, drie tale vlot praat. Hy het ook gesê dat hy nie sy kind se dood kan verwerk nie.

Volgens Visagie was Juwayne ’n sagmoedige, respekvolle kind met goeie maniere wat ook as tolk by die skool opgetree het.

Hy het gesê hoewel die beskuldigde ook sy seun is vir wie ook lief is, moet hy gestraf word vir wat hy gedoen het.

Landdros Boks het sy kommer uitgespreek oor ’n vlaag van geweldsmisdrywe en verkragting wat in klein plekke soos Ladismith en Zoar voorkom.

“Die gemeenskap roep luidkeels vir swaarder vonnisse en die hof sal sy plig versuim indien hy ligte strawwe oplê wat nie die regte boodskap uitdra nie.”

Jantjies het agt vorige veroordelings op sy rekord en is al vroeër onbevoeg ver­klaar om ‘n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)