DIE verhoor van die 37-jarige Johnny Donson van Oudtshoorn, wat daarvan aangekla word dat hy drie keer met sy bakkie oor ’n man gery en daarna van die toneel weggejaag het, is Maandag in die streekhof op Oudtshoorn uitgestel omdat die betrokke landdros nie teenwoordig kon wees nie.
Donson staan tereg op klagtes van moord en versuim om hulp aan ’n beseerde te verleen.
Die 43-jarige Ricardo Fourie, alombekend as Carthy, het ’n paar dae na die voorval op 5 Januarie 2018 in Swawellaan, Bridgton, in die Grootte Schuur Hospitaal aan sy beserings beswyk.
Bevedine Britz het getuig dat sy gesien het hoedat Donson oor die oorledene ry.
Donson ontken dit.
Die saak word deur streeklanddros Ntsoki Moni aangehoor, maar is deur streeklanddros Daniel Boks vir voortsetting tot 22 Julie uitgestel.
Donson se borgtog van R500 en borgvoorwaardes is tot dan verleng. (Deur Garnett Wicomb.)