DAAR lê ’n onsekere toekoms voor vir kleiner sportsoorte, sê Dave van der Walt, operasionele bestuurder van Eden Tweekamp.
“Die Covid-19-pandemie se tentakels groei by die dag en met verwysing na die onsekere toekoms van kleiner sportsoorte, begin die rooi ligte al hoe helderder flikker,” sê hy.
Van der Walt het Saterdag in ’n persverklaring gesê hy grond sy stellings op die voorskrifte in die mediaverklaring van die Nasionale Departement van Sport, Kuns en Kultuur soos uitgereik op 20 Junie vir die vlak-3-inperking.
“Ek gebruik tweekamp as voorbeeld. Dit sal sekerlik ook geld vir swem, tennis, driekamp, vyfkamp, atletiek ens.”
Die nuwe regulasies vir kontak- en nie-kontaksportsoorte sluit onder meer in dat sportliggame die nasionale minister skriftelik in kennis moet stel voordat daar enige oefening, wedstryd, toernooi of byeenkoms kan plaasvind. “Dit moes binne 14 dae ná die publikasie van voorskrifte ingedien word, dus op Vrydag 26 Junie! Die minister sal dit dan oorweeg en besluit of aan al die voorskrifte voldoen word – wat lank kan neem,” het Van der Walt gesê.
Alle atlete moet dan op eie koste teen sowat R800 elk privaat getoets word.
“As die wagtydperk vir die uitslae in ag geneem word met dié toetse wat nie prioriteit by laboratoriums sal geniet nie, kan dit taamlik lank vat,” sê hy.
Volgens die voorskrifte moet sportgeriewe ook skoongemaak en ontsmet word. “In die geval van tweekamp behels dit twee venues – die atletiekbaan en die swembad! En dit voor elke oefening of byeenkoms.”
Verder moet daar ’n beampte aangestel word wat moet toesien dat die regulasies nagekom word, ’n register van onder meer alle deelnemers, beamptes en noodpersoneel bygehou word; siftingstoerusting aangekoop word; ’n vervoerplan op- gestel word; ’n isolasielokaal aangewys en ingerig word; en nog meer – alles teen bykomende koste.
“Nou vir die groot vraag: wat gaan dit kos om net één tweekampbyeenkoms in Eden aan te bied?”
“Die realiteite skets ’n donker prentjie,” het Van der Walt gesê.
Hy hoop dat SA Tweekamp met ’n goeie aksieplan vorendag kom.
• Ander sportsoorte wag ook nog vir helderheid oor hoe hulle moet voortgaan.
Oudtshoorn het byvoorbeeld al ’n me-nigte rolbalkampioene opgelewer, maar selfs die rolbalspelers is onseker van hoe om voort te gaan.
Justine Eaglestone, president van die Oudtshoorn Rolbalklub, het by navraag gesê die klub is besig met die sanitasie van die geboue. “Ons protokolle is in orde en ons is reg om te speel, maar ons wag vir Rolbal Suid-Afrika vir die datum wat ons kan begin om te oefen.” (Deur Stefan Skapie Goosen)
Toekoms onseker vir kleiner sportkodes
