DIE winter is die tyd dat mense probleme ondervind met hul motors se batterye – ’n baie belangrike komponent van enige voertuig.
Sonder die battery kan jy nie jou motor aanskakel nie, jou ligte aansit, radio luister, jou selfoon laai of enige ander elektroniese komponente in jou motor gebruik nie. Dit is daarom belangrik dat jy jou motor se battery deeglik in stand hou en so die kopseer van ’n pap battery vermy.
In die algemeen hou ’n battery twee tot vyf jaar. Die weer is ’n groot faktor in hoe lank jou motor se battery hou. ’n Motor se enjinruimte genereer baie hitte en op snikhete dae soos hier in die Klein Karoo voorkom, plaas dit druk op die battery. Die hitte kan die vloeistof binne die battery vinniger laat verdamp en die battery beskadig. Dit is dus belangrik om gereeld te kyk of die battery genoeg water het indien dit nie ’n geseëlde battery is nie.
Die koue speel ook ’n groot rol deurdat ’n koue battery nie die volle stroom kan lewer soos wanneer dit warm is.
Dit kan die battery gouer pap laat word.
Wenke om ’n battery se leeftyd te verleng, is die volgende:
• Vermy kort ritte. Wanneer die motor aangeskakel word, trek dit baie krag, en met kort ritte kry die battery nie genoeg tyd om vol te laai nie. Dit is dus goed om van tyd tot tyd langer ritte te onderneem sodat die battery kans kry om vol te laai. Indien jy nie gereeld ry nie, dink daaraan om ’n batterylaaier aan te skaf om die battery te laai gedurende tye wat jou motor lank staan;
• Maak seker die battery is stewig vasgemaak. Indien die battery nie stewig vasgemaak is nie en jy ry op stamperige paaie, kan die vibrasie skade aan die binnegoed van die battery veroorsaak;
• Skakel alle ligte af wanneer jy die motor verlaat. Parkeerligte en die binnelig van die motor kan die battery laat pap word;
• Beperk korrosie. Die terminale op die battery verweer met gebruik en dit is belangrik dat die terminale gereeld skoongemaak word. Gebruik ’n ou tandeborsel, koeksoda en water om die terminale skoon te maak.
• Toets battery gereeld. Deur dit te doen, kan jy agterkom of die battery dalk die einde van sy lewe bereik het;
• Moenie elektriese toestellle soos die radio en lugversorger onnodig gebruik terwyl motor luier nie. Dit kan die lading van die battery verlaag;
• Deur jou motor goed in stand te hou word verseker dat al die komponente reg werk wat nie net jou motor se leeftyd nie, maar ook die van die battery verleng.
Al kyk jy hoe goed na jou motor se battery, het dit ’n beperkte leeftyd en gaan dit die een of ander tyd ophou werk. Maak dus seker jy het ’n noodplan! (Deur Heinrich Bosman)