25-Jarige man wat skrikbewind teen inwoners voer tot Augustus uitgestel

DIE saak teen ’n man van Oudtshoorn wat teregstaan op nege aanklagte van roof, sommige met verswarende omstandighede, een van huisbraak en een van verontagsaming van korrektiewe toesigvoorwaardes, is Dinsdag in die Oudtshoorn streekhof vir verdere verhoor tot 10 Augustus uitgestel.

Brandon Prinsloo (25) het tussen Februarie 2019 en April 2020 verskeie mense van selfone, ’n fiets, brood, ’n musiekboks en kontant beroof en sy slagoffers met messe gesteek of gedreig, en ook van sy slagoffers met ’n panga, hokkiestok en saag geslaan. Volgens die staatsaanklaer, Hyron Goulding, sal die staat sowat 23 getuies roep waarvan twee van die klaers reeds getuig het.

Dillon Blignault het getuig dat hy op 26 April 2020 met sy fiets op pad was na sy tante se huis in Smartie Town toe vyf of ses mans hom voorgekeer het.

Prinsloo het hom van sy fiets geruk terwyl een van sy vriende hom met ’n mes gedreig en van sy selfoon beroof het.

Hy ken die beskuldigde omdat hulle naby mekaar woon en die voorval onder ’n straatlig gebeur het.

In die dae wat daarop gevolg het, het hy die beskuldigde gereeld met die fiets sien rondry en die polisie daaroor ingelig. “Hulle was egter te bang om na die beskuldigde te gaan,” het hy getuig. Sy Raleigh-fiets was sowat R4 000 werd en sy selfoon R1 700. Volgens Prinsloo se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, sal hy getuig dat hy nie die klaer ken nie en ontken dat hy hom van sy fiets beroof het.

’n Tweede klaer, Shumeila Damons, het getuig dat sy die aand van 26 September 2019 haar ghetto se deur en vensters toegemaak het voordat sy gaan slaap het.

Sy is omstreeks vyfuur die oggend deur Prinsloo wakker gemaak wat haar gevra het om agtertoe te lê. Sy was geskok en het opgestaan maar toe sy die lig wou aanskakel het hy haar hand vasgegryp en weggehardloop.

Sy het later gevind dat haar selfoon wat onder haar kopkussing was, weg was asook ’n duvet, ketel, strykyster en eetgerei. Sy het nie gesien dat die beskuldigde enigiets by hom gehad het nie maar vermoed dat hy hulp gehad het omdat sy nog voetspore onder haar oop kamervenster gesien het.

Sy het niks van die gesteelde goedere teruggekry nie. Die beskuldigde sal volgens sy regsman getuig dat Damons ’n “eerlike fout” maak met sy identifikasie.

Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni. (Deur Garnett Wicomb)