Saak teen drie wat moord pleeg uitgestel na vandag

DIE saak teen drie verdagtes van Oudtshoorn wat van moord met ’n gesamentlike doel aangekla word, en Maandag sou begin, moes tot vandag (27 Julie) verdaag word omdat hul regsverteenwoordiger nie beskikbaar was nie.

Kelvin Botha (29) van Neppon, Niel Daniels (27) van Rose Valley en Henry Smith (26) van Rosebank word van moord op Niel Fredericks (25) aangekla.

Fredericks is op 21 April 2022 in Bonteboklaan, Bridgton, met ’n skerp voorwerp doodgesteek. Die staat voer aan dat Botha volgens ooggetuies glo die oorledene met sy knie op die grond vasgedruk het.

Smith het hom vasgehou en Daniels het hom glo gesteek waarna hulle weggehardloop het.

Volgens die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, sal die staat moontlik agtien getuies roep om in die saak te getuig.

Die saak is Maandag vir twee dae se verhoor, vandag en more (27 en 28 Julie), deur streeklanddros Ntsoki Moni uitgestel.

Die beskuldigdes bly in aanhouding. (Deur Garnett Wicomb)