
Die Polisiehoogte-sopkombuis en nasorgsentrum wat vanjaar sy derde bestaansjaar herdenk, het op 18 Julie Madibadag gevier met studente en bestuur van die Oudtshoorn Polisie Akademie wat ook die geleentheid bygewoon het.
Phillip en Susanna Seroux het die sopkombuis ten tyde van Covid-19 in 2020 begin en later ook ’n nasorgsentrum.
Verteenwoordigers van SAFFI (South AfricanFaith & Family Institute) en die bestuurder van Nedbank Oudtshoorn het ook die viering bygewoon.
Nadat die polisiestudente die terrein saam met ’n paar fikse bejaardes skoongemaak het, is die bejaardes getrakteer op ’n heerlike bord potjiekos en gebraaide wors wat geborg is deur verskeie groentewinkels op Oudtshoorn.
Die dag se verrigtinge is begin met ’n boodskap deur Aartsbiskop RE Booyce en die senior burgers het ook elkeen ’n geskenkpakkie van die polisie-studente ontvang.
Volgens Seroux is die sopkombuis en nasorgsentrum na drie jaar steeds aan die groei danksy wye ondersteuning.
Die sentrum spog tans met ’n bejaarde klub van sestig senior burgers van die omgewing wat elke dag van die week ’n ete ontvang. Daar is ook ’n aantal rekenaars wat leerders na skool vir take kan gebruik en drie personeellede, ’n skoonmaker, administratiewe klerk en kok wat vir agt maande vergoeding van die staat ontvang.
Seroux het almal bedank wat van die Madibadagviering so ’n volslae sukses gemaak het en bygevoeg dat hulle tans besig is met ’n projek om die sentrum se vloere te teel en ’n palissade-heining vir veiligheid aan te bring waarvoor donateurs gesoek word.
Hy het ’n beroep op plaaslike besighede en sakemanne gedoen om die projek te ondersteun en kan gekontak word by 079 987 9486. (Deur Garnett Wicomb)
