DIE saak teen ’n pa en sy seun van Oudtshoorn wat aan poging tot moord skuldig bevind is, is in die streekhof na die argumente van die staat en die verdedig vir vonnisoplegging tot 11 Augustus uitgestel.
Die 50-jarige Piet Sederstroom en sy 29-jarige seun Marcelino Goliath, is daaraan skuldig bevind dat hulle helder oordag op 28 Augustus 2021 vir Henry Coetzee in sy Wendyhuis met ’n panga en byl aangeval het.
Volgens die staatsaanklaer, Brandon Smith, is direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis weens die erns van die misdaad.
Volgens hom is die beskuldigdes gelukkig dat hul slagoffer nie dood is en hulle vir moord aangekla is nie.
Hy is nietemin so ernstig aangerand dat hy vir ses dae hospitaal behandeling moes ontvang en steeds nie die gebruik van sy een hand het nie.
Volgens die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, is hulle nie mense wat uit die gemeenskap geneem moet word nie vra die hof om korrektiewe toesig te oorweeg.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla. (Deur Garnett Wicomb)
Pa en seun skuldig aan poging tot moord
Generiese foto