Ambé Festus (13) en haar broer Joshua (16) by die bekende pianis en oud-leerder van die Hoërskool Oudtshoorn, Sulayman Human wat hulle tydens hul praktiese musiekeksamens begelei het. Foto verskaf
TWEE jong Oudtshoorniete het onlangs die voorreg gehad om die bekroonde pianis, Sulayman Human, as hul begeleier te hê toe hulle in Oktober hul praktiese Trinity College-musiekeksamens afgelê het.
Hulle musiekonderwyser, Aubrey van Wyngaardt, is ook ’n oud-musiekonderwyser van Sulayman.
Sulayman, wat in Dysselsdorp grootgeword het, aan die Hoërskool Oudtshoorn gematrikuleer het en sy B.Mus-graad aan die Universiteit Stellenbosh verwerf het, is ’n voormalige wenner van die prestigeryke ATKV-Muziqprys.
Joshua Festus (16) ’n leerder aan Oudtshoorn Hoërskool, het sy graad 6-eksamen afgelê in die deskant- en alt-blokfluit asook sy graad 2-eksamen in klarinet. Hy het onderskeidelik 71% en 77% gekry vir sy eksamens en vroeër vanjaar ook drie goue en een silwer toekennings by die Mosselbaai Eisteddfod verwerf.
Sy suster Ambé (13) het die graad 5-eksamen afgelê in deskant- en ook alt-blokfluit en met 78% geslaag. Sy het die graad 3 klaviereksamen met 79% geslaag. Ambé, ’n leerder van Laerskool Van Reede, het op haar beurt ’n goue en twee silwer toekennings in die Mosselbaai Eisteddfod verwerf.
Joshua en Ambé se ma, Rencia, sê haar kinders was werklik bevoorreg om deur Sulayman begelei te word en dat hy hulle gehelp het om op ’n hoër vlak te presteer.
“Ek het gestaan en luister toe hy Joshua in ’n jazz-stuk begelei en behoorlik hoendervleis gekry oor hoe mooi dit was.”