Briewe van lesers

Rooibostee en die Khoi

Dekolonialisering is ’n begrip waarvoor ek nie baie praktiese werklikheid sien nie, maar die onlangse erkentenis van die Khoi-San se intellektuele eiendom rondom rooibostee is uiteindelik ’n tree in die regte rigting van die her-stel van die groep se selfwaarde.

Daar is geskik vir ’n bedrag van miljoene wat uitbetaal sal word aan die Khoi-groepe van die Wes-Kaap.
Mag ek ’n paar voorstelle maak om te verseker dat hierdie aansienlike bedrag uitkom by die regte, behoeftige afstammelinge; dat daar nie ’n herha­-ling kom van die Vrede Melkplaas nie, waar die enigste bevoordeeldes die tou-trekkers was wat die beursie bestuur het.

Deursigtigheid is belangrik, waar ’n paneel of komitee aangestel word, bestaande uit mense met integriteit. Hier­­die komitee moet eerlike, gereelde terugvoering en verslag doen aan die Khoi-gemeenskappe – die individue op grondvlak wat eintlik voordeel moet trek uit hierdie historiese ooreenkoms.

Indien individue gefinansier word vir sekere projekte, moet dit mense wees wat weet waarvoor dit gaan en ’n sekere minimum ervaring in die spesifieke gebied moet hê.

Daar moet veral gefokus word op projekte wat ’n raakpunt het ten opsigte van die Khoi-San, byvoorbeeld die taal, boerdery of die verwerking van rooibostee, toerisme wat fokus op die Khoi-San, die kulturele aspekte soos die rieldans, ensovoorts.

Selfs projekte ook. Indien Kaapstad se lughawe byvoorbeeld dan herbenaam moet word, kan dit eerder hernoem word na Krotoa, ’n Khoi-vrou wat op Robbeneiland gevange gehou is in plaas van Winnie Madikizela- Mandela.

Die fokus moet dus wees op die bemagtiging van die afstammelinge van die Khoi, ’n groep wat uiters benadeel is deur die pre-1994-regerings, asook post-1994 gemarginaliseer word, met weinig erkentenis vir hul benadeling in die verlede ontvang deurdat hulle steeds in die Wes-Kaap benadeel word deur BBEE- en regtellende aksie.
– Clifford van Wyk, Oudtshoorn