Die pianis Aniel Ewerts by die drie mense wat saam met hom werk vir die konsert, My vingers ken die pad: Lesinda Stalmeester, André Boezak (sittend) en Paul Amas. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
DIE Oudtshoorn Kunstevriende se volgende konsert op Dinsdag 11 Junie beloof ’n groot bederf waarin vier plaaslike kunstenaars saamspan vir ’n konsert by die Klein Karoo Ostrich Emporium.
Die konser.t, My vingers ken die pad, wil Oudtshoorniete bekendstel aan die besonderse talent van die pianis Aniel Ewerts (31). Hy word ondersteun deur die sangeres Lesinda Stalmeester (28) terwyl die bekende Paul Amas ’n teks geskryf deur ds André Boezak gaan voorlees
“Die doel van hierdie konsert is om vir Aniel ’n geleentheid te skep om as solo-kunstenaar te groei, en ons dank gaan uit na die Oudtshoorn Kunstevriende wat die inisiatief geneem het en ons ondersteun,” sê Amas, bekende sanger en seremonie-meester wat reeds 20 jaar in die bedryf staan.
Hy en Ewerts het mekaar in 2008 ontmoet tydens ’n optrede by die VKG Kerk. Hy het Stalmeester ook in 2008 by die destydse Garobfees ontmoet.
Ewerts en Stalmeester het op hulle beurt die eerste keer in 2004, toe hulle nog op skool was, saamgewerk en ’n gospel-groep gestig. Hulle was vanjaar ook saam met Amas tydens die KKNK op die RSG-verhoog.
Ewerts sê een van die hoogtepunte in sy loopbaan was toe hy Hildegardt Silkiewicz (Bonita van 7de Laan) in 2013 tydens ’n konsert op Oudts-hoorn begelei het.
Kaartjies (R50) is te koop by die deure of kontak Annelise (072 592 3928), Antoinette (084 567 1030) of Paul Amas (076 922 8376).